Deur te onttrek uit die Internasionale Strafhof is ʼn skuld-erkenning van die ANC dat hulle ʼn fout gemaak het om president Omar al-Bashir in Suid-Afrika toe te laat. Nou probeer hulle verder weghardloop van die gevolge van hierdie fout.

President Mbeki het uit sy pad gegaan om die beeld van Suid-Afrika as ʼn mensereg- sensitiewe land te vestig en ons so ʼn gerespekteerde lid van die internasionale wêreld te maak. Die besluit van die Zuma ANC-regering om uit die Internasionale Strafhof te onttrek, vernietig hierdie beeld en bevestig die wêreld se vooroordele teenoor Afrika-lande.

Watter geldige redes ook al deur die ANC vir die besluit aangevoer word, gaan dit die ANC-regering soos nooit tevore nie op die reuse verhoog van die internasionale gemeenskap onbloot as ʼn blatante skender van menseregte.

In 1998 het die Mbeki-regering die Rome Konvensie oor die Internasionale strafhof geteken en dit daarna deur spesifieke wetgewing in Suid-Afrika se parlement geratifiseer.

Artikel 27 van die Rome-statuut bepaal dat jou status as staatshoof jou nie immuniteit teen die hof se jurisdiksie gee nie. Die hof het ook so bevind.

Nou argumenteer die ANC teen hierdie klousule.

Op 4 Junie 2002 word die debat in die Suid-Afrikaanse parlement gevoer oor die implementering van die statuut van Rome.

Adv. Johny de Lange sê namens die ANC in die debat: “Another very important principle spelled out in this legislation is that heads of state, heads of government and members of parliament will not be able to raise a defence that they are heads of state”.

Adjunk-minister Landers sê: “… for perpetrators of genocide, crimes against humanity and war crimes the world has suddenly become a small place, and the number of safe havens has been drastically reduced.”

Daar kan geen twyfel wees dat die ANC die volle implikasies van die Rome statuut geweet het nie, uitgevang is en nou van die gevolge van hulle fout probeer weghardloop tot nadeel van Suid-Afrika. Suid-Afrika gaan op ekonomiese en internasionale gebied ʼn groot prys vir hierdie kortsigtigheid betaal.