Die aanval op mnr. Johan du Toit (57), onderhoof van die laerskool Akasia in Pretoria, sal hoog op die agenda wees wanneer adv. Anton Alberts, VF Plus-LP en leier in Gauteng, Woensdag met die Gautengse polisiehoof gesprek voer oor die toename in ernstige geweldsmisdaad in dié provinsie.

Adv. Alberts het die gesprek aangevra na die onlangse reeks moorde waarin onder andere twee versekeringsmakelaars en ʼn eiendomsagent in die omgewing van Krugersdorp vermoor is.

Volgens adv. Alberts is dit verontrustend dat hardwerkende lede van die gemeenskap aangeval word waar hulle besig is om hul werk te doen, en dat mense toenemend onveilig is in hul eie woonhuise.

Hy sê die VF Plus wens mnr. Du Toit spoedige beterskap toe.

“Die polisie is dit aan die publiek verskuldig om hulle veilig te hou. Daar moet indringend aandag gegee word aan hierdie opwelling in misdaad, en in besonder geweldsmisdaad en moord wat die ekonomies aktiewe deel van ons samelewing teiken.

“Die VF Plus wil die versekering van die Gautengse polisiehoof hê dat daar ook hande gevat sal word met die intelligensie-gemeenskap en ander tersaaklike rolspelers om antwoorde en oplossings vir die toename in misdaad te vind,” sê adv. Alberts.