Die VF Plus betreur die gebeure by die SAUK waar personeellede vervolg word weens hul teenkanting teen sensuur en beskou die situasie as so ernstig dat die parlementêre portefeuljekomitee gevra gaan word om in te gryp, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Die bedanking van Jimi Matthews, waarnemende groephoof van die SAUK, bevestig dat ‘n onverkwiklike situasie by die SAUK bestaan waar sommige personeellede van mening is dat hulle onder sensuur geplaas word en daarom nie hul primêre funksie as openbare uitsaaier na behore kan uitvoer nie.

“Dit wil voorkom of die SAUK nou blatant van openbare uitsaaier beweeg na regeringsuitsaaier. Die vraag moet gevra word waarom die lisensiegeld van opposisiekiesers gebruik kan word om ‘n uitsaaier te finansier wat toenemend die mondstuk van die regerende party raak.

“Die taak van ‘n nuusdiens is om die werklikheid weer te gee en nie ‘n gesensureerde weergawe daarvan nie. So skep hulle ʼn skynwêreld wat geen verband hou met wat werklik in Suid-Afrika aan die gang is nie.

“Die geskiedenis bewys dat as ‘n nuusdiens eers een keer sy geloofwaardigheid ingeboet het, dit baie moeilik is om dit weer te herstel. Dit is wat tans by die SAUK gebeur,” sê dr. Mulder.