Die VF Plus is verheug dat daar eindelik vordering is in die geding wat Transnet-pensioenarisse in die vorm van ʼn klasaksie-eis teen Transnet en die regering aanhangig gemaak het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Die pensioenarisse se regspan het vandag bekend gemaak dat die Noord-Gautengse Hooggeregshof op 4 en 5 April vanjaar argumente gaan aanhoor oor besware wat Transnet aangeteken het rakende sekere aspekte in die eisers se pleitstukke.

Die hof sal daarna besluit of die besonderhede van vordering gewysig moet word. Indien nie, sal Transnet die kans gegun word om op die hof se beslissing te reageer. Die proses moet binne ʼn maand afgehandel wees.

Na dié proses sal die eisers se regspan aansoek doen vir die vroegste hofdatum vir die saak om te begin.

In die saak eis sowat 70 000 pensioenarisse van alle rasse bykans R80 miljard van Transnet. Dit is die grootste siviele eis in die land se regsgeskiedenis.

Volgens adv. Alberts het die VF Plus die pad sedert 2006 saam met die pensioenarisse gestap, en het hulle lief en leed in die proses gedeel.

“Meeste van die eisers is deur baie jare van groot lyding. Baie van hulle het verarm en is in die grootste ellende dood. Die VF Plus is saam met hulle verheug oor die vordering, en gee die versekering dat die party die pad end uit saam met hulle sal loop.

“Ons bedank die onafhanklike regspan vir hul onbaatsugtige werk, en veral die pensioenarisse wat al so lank en geduldig wag vir die saak om ʼn beloop te neem. Ons glo dat geregtigheid sal geskied waar Transnet in die saak op die meriete van die eis teen hulle moet antwoord.

“Transnet het tot dusver desperaat probeer om deur tegniese punte die saak te vertraag. Die gevolg daarvan was dat baie pensioenarisse met die verloop van tyd gesterf het. Baie weens swaarkry, ʼn gebrek aan geld en gepaardgaande mediese sorg.

“Dit kan daarom nie weggeredeneer word dat Transnet ʼn roekelose en hartelose instansie is wat die bloed van baie van hierdie mense aan sy hande het nie,” sê adv. Alberts.