• Post category:All / Government

Die staat kan nie die toenemende verarming onder wit Suid-Afrikaners en ander minderhede bloot wegwens omdat hulle statisties gesproke onbenullig teenoor die swart massas blyk te wees nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling.

Luidens ʼn berig in vandag se Beeld sê mnr. Pali Lehohla, statistikus-generaal van Suid-Afrika, daar is te min armoede in wit huishoudings om dit by statistieke oor hulpbehoewende huishoudings in te reken.

Luidens die sensusdokument waaroor berig word, is daar geen statistieke oor armoede vir wit huishoudings nie, terwyl net 0,4% van Indiër-huishoudings as hulpbehoewend gereken word. 40,3% van swart Suid-Afrikaners en meer as 20% van bruin huishoudings word as brandarm gereken.

Adv. Alberts sê dit is bekend dat armoede onder wittes die laaste twee dekades hand oor hand toegeneem het en dat veral regeringsbeleid soos regstellende aksie ʼn groot rol hierin speel.

“Dit is skokkend dat Statistiek Suid-Afrika (SSA) self erken dat hy geen statistiek het oor wit verarming nie. Dit terwyl mense wat werk doen in die sogenaamde wit plakkerskampe, reken dat daar tot 800 000 mense net in sulke kampe gehuisves word.

“Meet dit teen die aantal wittes in die land, en die persentasie is enorm. Die regering kan die probleem nie wegwens nie. Net omdat ʼn minderheid ʼn klein deeltjie van ʼn groot meerderheid in die bevolking uitmaak, beteken nie hulle is irrelevant nie.

“Net een voorbeeld is die sowat 66 000 Transnet-pensioenarisse wat tans ʼn geding teen Transnet en die staat het, en wie se inkomste hulle in die klas van werklik arm mense laat val.

“Die VF Plus het ʼn week gelede die onderneming van SSA om ʼn landwye peiling te doen om die vlakke van armoede en ongelykheid in die land te meet verwelkom, maar het toe reeds gesê hy sal toesien dat wit, bruin en Khoisan bygereken word.

“Na hierdie kommerwekkende uitsprake van mnr. Lehohla is ons nog meer vasbeslote om dit te doen. Dit is skreiend dat die staat se beleid hierdie armoede onder minderhede help skep wat nou geïgnoreer word.

“Indien SSA sê hulle weet nie waar om die verarmde mense op te spoor nie, sal die VF Plus hulle daarheen neem,” sê adv. Alberts.