Skaars ʼn jaar gelede sou ʼn mens nie kon dink dat dit slegter met Suid-Afrika onder die ANC-regering kan gaan nie, maar in die afgelope jaar was daar soveel verdere terugslae dat selfs van die voorste ANC-ondersteuners erken die land is besig om te sink onder ANC-leierskap, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

Adv. Alberts het vandag met die mediumtermyn-begrotingsdebat gesê hy het Suid-Afrika dié tyd verlede jaar vergelyk met ʼn skip wat beskadig is op die rotse van korrupsie, wanadministrasie, beleidsonsekerheid, kommunistiese wette en meer rasgegronde wette as onder apartheid.

Hy sê daardie skip neem nou vinnig water in, en dit is onbetwisbaar dat die mees ontwikkelde land in Afrika binne twee dekades onder ANC-bestuur tot so ʼn mate verval het dat die land talle ‘eerstes’ in sy geskiedenis beleef. Van hierdie bedenklike ‘prestasies’ is:

  • Vir die eerste keer staan die land voor ʼn fiskale afgrond;
  • Vir die eerste keer huiwer die land op die rand van rommelstatus;
  • Vir die eerste keer word korrupsie as sistemies geag;
  • Vir die eerste keer stel ʼn regering sanksies teen homself in weens beleid en wette wat beleggers wegstoot, byvoorbeeld die Wet op Beleggingsbeskerming;
  • Vir die eerste keer word boere en plaaswerkers sodanig in groot getalle vermoor dat voedselsekuriteit nadelig beïnvloed word;
  • Vir die eerste keer het die land nie die grootste ekonomie in Afrika nie;
  • Vir die eerste keer het die regering nagelaat om te sorg dat die land se infrastruktuur (soos kragverskaffing) voldoende is vir sy mense se behoeftes;
  • Vir die eerste keer is nagelaat om waterstelsels in stand te hou en om voorsiening te maak vir droogte;
  • Vir die eerste keer in moderne geskiedenis is die groeikoers onder 2% per jaar;
  • Vir die eerste keer is rekord-laagtepunte teenoor ander geldeenhede bereik;
  • Vir die eerste keer skep die staat meer werk as die private sektor;
  • Vir die eerste keer kan gesê word fiskale beplanning is niks anders nie as ʼn Ponzi-skema weens ʼn krimpende ekonomie en groeiende staatsuitgawes.

Adv. Alberts sê  daar kan nog baie van die ANC se ‘goeie stories’ by hierdie lysie gevoeg word, maar dit is voldoende om te sê daar word nou gemaai wat gesaai is.

“Die regering sal vinnig moet wegdraai van dié selfvernietigingspad. Indien dit nie gebeur nie, sal werkloosheid verhoog, belastinginkomste sal aanhou krimp en Suid-Afrika sal al hoe nader aan die afgrond beweeg. Die skip sink al dieper weg onder die kapteinskap van die ANC,” sê adv. Alberts.