Suid-Afrikaners is klaarblyklik so vuisvoos met die ANC-regering se onbevoegheid en korrupsie dat die grootste vermorsing van staatsgeld in die land se geskiedenis binne ʼn enkele jaar, byna ongesiens verbygegaan het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Luidens die Ouditeur-generaal (OG) se verslag oor staatsbesteding wat verlede Woensdag uitgereik is, het staatsdepartemente in die laaste boekjaar ʼn verbysterende R62.7 miljard ‘onregmatig bestee’. In die vorige boekjaar (2012 / 2013) was die bedrag R26 miljard.

“In die laaste boekjaar het die bedrag nie net verdubbel nie, dit het met ʼn allemintige R36.7 miljard toegeneem. Dan verreken dit ook hoegenaamd nie die tragiese gevolge van byvoorbeeld ʼn swak onderwys- en gesondheidstelsel waarvan die gevolge haas onberekenbaar is nie,” sê adv. Alberts.

Hy sê hierdie bedrag kan in perspektief gesien word deur byvoorbeeld die wapenskandaal wat eers R47 miljard beloop het, maar het geëskaleer het tot R77 miljard. Die totale weermag sou dus feitlik herbewapen kon word met oorlogskepe, duikbote en straaljagters.

“Dit is aansienlik groter as die Gautrein-projek van sowat R44 miljard. Konserwatief bereken sou die totale jeug van Suid-Afrika vir ʼn paar jaar gratis kon studeer. Sowat tien gebouekomplekse soortgelyk aan UNISA kon gebou word, of ten minste 40 000 km se splinternuwe paaie.

“Die teendeel is egter besig om te gebeur, en oral is tekens van veral in die land se infrastruktuur duidelik sigbaar. Tot so ʼn mate dat selfs ʼn woordvoerder van ʼn afvaardiging van die Russiese Federasie wat Suid-Afrika tans besoek, hierdie week gesê het die land se gebrekkige en inploffende infrastruktuur is ʼn rede waarom beleggers toenemend hul neuse vir die land optrek.

“Die meganisme vir hierdie vermorsing en suiwer diefstal van belastinggeld is geskep deur transformasie en die gepaardgaande ontplooiing van kaders wat stelsels soos tenders gebruik om geld uit die staatskas te tap en hulself te verryk.

“By hierdie geldtrog wat deurlopend deur hardwerkende Suid-Afrikaners met swaarverdiende belastinggeld gevul moet word, sal jy die elite van die regerende party en hul vennote aantref,” sê adv. Alberts.

Hy sê dit is duidelik dat transformasie die land vernietig en die VF Plus gaan hom nou internasionaal beywer om dié beleid tot ‘n misdaad teen die mensdom te laat verklaar. Dit sal beteken dat politieke leiers van die ANC deur die internasionale strafhof vervolg kan word indien hulle op dié vernietigingspad voortgaan.

“Hoeveel mense en veral bejaardes en kinders sterf nie weens swak of geen dienslewering? Suid-Afrika het reeds onder die mistieke aura van Nelson Mandela uitbeweeg. Die wêreld kyk met nuwe, bekommerde oë na die land.

“Die tyd het daarom aangebreek om die internasionale stelsel teen die regering te gebruik omdat selfs die Suid-Afrikaanse regstelsel tot ʼn groot mate deur transformasie sy tande ontneem is. Die ANC het dit dekades gelede met groot vrug teen die vorige bewind gedoen. Nou kan dieselfde metode teen hulle gebruik word,” sê adv. Alberts.