Die woelinge rondom Suid-Afrika se minister van finansies, Pravin Gordhan, is soos om met vuurhoutjies in ʼn droë bos te speel. As die bos begin brand, gaan geen boom gespaar bly nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê luidens media-berigte en beweerde uitlatings van Gordhan self, blyk dit dat die minister nou duidelik ʼn streep in die sand getrek het en bereid is om te veg om die land se staatshulpbronne te red.

“Die land kan nie bekostig dat ʼn interne stryd tussen faksies oorspoel en die land in sy geheel benadeel nie.

“Suid-Afrika staan voor ʼn enorme krisis. Dit het reeds gemanifesteer in die verswakking van die rand, en ʼn gerekende ekonoom soos Mike Schussler is van mening dat hierdie aangeleentheid die land se ekonomie selfs meer skade berokken as die afdanking van Nhlanhla Nene.

“Oënskynlik reken die minister dat hy nie alleen staan in die stryd nie, wat dui op groot verdeeldheid binne die regerende party.

“Ongetwyfeld het bloot die gerugte van die afgelope paar dae reeds enorme skade aan die land se ekonomie aangedoen, veral wat beleggersvertroue aanbetref.

“Standard Bank se onlangse verslag oor die land se ekonomiese vooruitsigte het reeds aangetoon dat die gemiddelde persoon se besteebare inkomste drasties gaan verminder en dat werkloosheid in veral die mynbou- en vervaardigingsektor gaan toeneem.

“Die skade wat nou opnuut aangerig word in die stryd om die land se hulpbronne word gevoer sonder enige in agneming van die land se ekonomie of sy mense welstand. En sonder twyfel is dit die armstes wat die meeste sal ly,” sê dr. Mulder.