Suid-Afrika se ekonomie stagneer en ekonomiese beweegruimte raak al hoe minder vir die regering. Alhoewel buitelandse faktore ʼn rol speel, moet die ANC ʼn groot deel van die skuld hiervoor kry weens verkeerde beleidskeuses, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor die ekonomie.

Adv. Alberts het vandag in sy toespraak in die eerste lesingsdebat van die Begrotingswetsontwerp vir 2014 gesê die kern van die land se ekonomiese probleme kan saamgevat word in die woord ‘transformasie’.

“Bykans alles moet getransformeer word. Inhoudelik bevat die woord beleidstukke wat vir ons uiters kommerwekkend is. Ten spyte van die feit dat die woord ‘transformasie’ nie een keer in die grondwet voorkom nie, betoog die ANC dat die aksiewoord wel grondwetlik is.

“Dit is teen hierdie agtergrond dat vandag uitvoering gegee moet word aan hierdie Begrotingswetsontwerp. Die naam van die Wet is ironies van toepassing op die situasie in Suid-Afrika aangesien dit die ANC se ekonomiese plan deeglik toelig.

“Minderhede sien hierdie plan as volg:

‘Ons’ (die ANC) neem belasting af van die publiek en verryk onsself deur dit te wanbestee terwyl die meerderheid arm bly. Dink aan Nkandla en Chancellor House;

Ons neem belasting en stroop pensioenfondse om bankrot staatsbeheerde entiteite aan die gang te hou. Dink aan Transnet, Alexkor, die SAUK, die SAL ens.;

Ons neem belasting van Afrikaanse minderhede af en gebruik dit om hul taal in skole, universiteite, howe en ander staatsinstellings te ondermyn;

Ons neem belasting af en stel ongekwalifiseerde ANC-kaders teen reuse salarisse aan in openbare poste om hul lojaliteit te koop, ongeag van dienslewering aan die armes;

Ons neem belasting af en weier om vir die ontneming van mineraleregte te betaal wat terselfdertyd die deur oopmaak vir die onteiening sonder vergoeding van alle eiendomsregte. Die ANC is in hierdie opsig die EFF ligjare vooruit wat die beginsel van afneem en wanbestee aanbetref;

Ons neem belasting af en skep kollektiewe plase soos Stalin om blywende hongersnood en konflik te verseker aangesien elke kader ʼn plaas moet hê. Thandi Modise is hier die leidende lig; en

Ons neem belasting van wit, bruin en Indiër en bestee dit met groot energie om ʼn rassistiese arbeidsomgewing en sakebeleid te skep. Dit pla die ANC nie of onbevoegdheid ook swart babas laat sterf nie. Nee, dis meer belangrik om seker te maak geen wit, bruin of Indiër-persoon word aangestel nie.

“Hierdie lys van vergrype is die persepsie wat talle minderhede het oor ANC-beleid. ʼn Groeiende groep swartes sien dit ook raak. Dit raak laat in die dag vir die ANC en niemand glo dit meer as die skuld sonder meer op die verlede gepak word nie.

“Sommige ANC-lede is opreg in hulle kommer oor hierdie land. Maar dan moet hulle begin optree en reg regeer. Vernietig korrupsie en rassistiese wette. Koester ons diversiteit. Anders sal die kiesers self hieroor rekenskap vereis,” sê adv. Alberts.