Die VF Plus verwag totale eerlikheid oor Suid-Afrika se huidige ekonomiese krisis more van minister Nene, minister van finansies. Enige pogings om die huidige swak ekonomiese situasie met polities korrekte praatjies te verdoesel, sal die alarms by die internasionale kredietgraderingsagentskappe laat afgaan.

Waar die minister in Februarie 2015 ‘n 2% ekonomiese groeikoers voorspel het, is dit nou nader aan 1,3%. Dit het ingrypende implikasies vir die voorspelde inkomste van die staat uit belasting. Om die boeke te laat klop kan die minister belastings verhoog of staatuitgawes verder inperk. As hy verkies om die tekort met verder lenings te delg, loop Suid-Afrika die risiko om die land se skuld oor die 50% van BBP te stoot. Dit is al wat die internasionale kredietgraderingsagentskappe nodig het om Suid-Afrika se kredietgradering verder af te gradeer. Hulle het nie gehuiwer om onlangs Brasilië se kredietgradering na gemors status te gradeer nie.

Waar sakevertroue in Suid-Afrika tans op hulle laagste is, moet die minister maatreëls aankondig wat die vertroue kan help herstel. ‘n Duidelike klem op infrastruktuur-projekte in plaas van salarisverhogings in die staat kan hiermee help. So ook ‘n duidelike wegbeweeg van staatsinmenging en rompslomp in die ekonomie.