Statistiek toon Engels is al hoe meer besig om moedertaalonderrig in Afrikaans en ander tale uit die onderwysstelsel te druk, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

Uit antwoorde op parlementêre vrae oor die aangeleentheid blyk dit dat veral Afrikaans die grootste verloorder is. Net in Gauteng is sowat ʼn kwart van Afrikaanse skole sedert 2002 na Engels-medium verander.

Wat die Vrystaat aanbetref het 26 uit 113 skole van enkelmedium-Afrikaans na ander mediums verander, in Gauteng 103 uit 266 en in KwaZulu-Natal 27 uit 44.

In Gauteng is tans net 168 Afrikaanse skole teenoor 1 539 Engels en in die Vrystaat 75 teen 303. In KwaZulu-Natal is daar nog net 12 Afrikaanse skole teen 2 153 Engels. Net in die Wes-Kaap is Afrikaanse skole nog in die meerderheid met 648 teen 461 Engelse skole.

Die navorsingsinstelling Ipsos-Markinor het verlede maand die uitslag van ʼn meningspeiling bekend gemaak wat aantoon dat meer as twee derdes van Suid-Afrikaners van alle rasse van mening is dat kinders die reg het om in hul moedertaal onderrig te ontvang.

Volgens Ipsos-Markinor is daar ooreenstemmigheid hieroor van regoor die onderskeie taalgroepe in die land, maar veral onder Engels- en Afrikaanssprekendes, met ander Afrika-tale wat kort hierop volg.

Adv. Alberts sê die minister se antwoord druis lynreg teen hierdie navorsing in aangesien sy sê Engels het nou die ‘voorkeur-taal van onderrig’ vir ouers geword.

Hieroor lui die minister se antwoord: “Weens die groeiende aanvraag van leerders wat Engels as onderrigtaal verkies, is skole besig om Engels as tweede medium vir onderrig in te stel. Die krimpende aantal Afrikaanssprekende leerders is ʼn verdere rede waarom skole wegbeweeg van Afrikaans-enkelmedium.

“Sommige ouers verkies ook Engels-onderrig aangesien hulle dit beskou as ʼn noodsaaklike taal om in die internasionale sakewêreld sukses te behaal,” lui die antwoord.

Adv. Alberts sê die statistiek oor die afname in Afrikaanse skole en die bevindings van die marknavorsing wys dat die ANC-regering nie eerlik is oor die aangeleentheid nie, en dat hy besig is om sy wil eensydig op die publiek af te dwing.

“Soos sake nou staan boer moedertaalonderrig agteruit en Engels gedy. Dis ‘n skande. Engels moet hoogstens ‘n brugtaal wees behalwe vir eerstetaal-Engelssprekendes. Die minister sal saam met die provinsies meer moet doen om skole vir moedertaalonderrig te skep.

“Wittes moet ook verplig word om ten minste een Afrikataal te leer anders as Afrikaans sodat kommunikasie-brûe gebou kan word sonder Engels as enigste platform daarvoor. Ons moet inheems, lokaal en globaal dink, praat en droom,” sê adv. Alberts.