Wouter Wessels, LPW van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaatse Wetgewer, het gister tydens die begrotingsposdebat van die Departement Landbou daarop gewys dat die grootste bedreiging vir landbou in Suid-Afrika wanpersepsies en veralgemening is.

Hy het daarop gewys dat dit verkeerd is om te dink dat alle swart boere misluk, maar dat dit ook net so verkeerd is om te dink dat alle wit boere ryk is en dat alle wit boere hul werkers sleg behandel en sleg betaal.

Wessels het ook daarop gewys dat die kwessies rondom grond rasioneel, sonder veralgemening aangespreek moet word. Alle wit mense besit nie grond nie en grond bring nie outomaties welvaart en rykdom nie.  Dit is ook nie vandag maklik om te boer nie.

Hy het beklemtoon dat SA nie ‘n landbou-land met kwaliteit landbougrond is nie.  Die nasionale Departement van Landbou se kartering van SA wys dat slegs 2% van SA se grondoppervlakte werklik kwaliteit landbougrond is.  Hy het ook gesê dat sekerheid oor eiendomsreg, genoegsame veeartsenydienste en genoegsame ondersteuning deur die regering nodig is om kommersiële landbou volhoubaar te ontwikkel en sodoende voedselsekerheid en werkskepping te weeg te bring.

Die LUR van landbou, me. Mamiki Qabathe, het egter in haar repliek hierdie feite ontken en gesê dat SA wel ‘n landbou-land met goeie landbougrond is, maar dat wit boere goeie landbougrond onproduktief maak en nie benut nie.  Sy het gesê dat grondhervorming radikaal moet plaasvind om grond na hul regmatige eienaars oor te dra.

Die VF Plus vind die LUR se onkunde en radikale uitsprake as onaanvaarbaar.  Landbou en landbouers moet gekoester word en opkomende boere moet effektief gehelp word om kommersiële landbouers te word.  Dit is onaanvaarbaar dat die LUR van landbou veralgemeen dat wit boere opkomende boere misbruik en by hulle steel en dat wit boere die oorsaak is van alle probleme wat landbou in die gesig staar.  Die LUR moet besin, want sonder kommersiële landbouers, is daar nie voedselsekerheid nie en sal die Vrystaat en SA ten gronde gaan.