Babas van skaars ʼn paar maande oud, jong skoolgaande kinders, borsvoedende moeders en swak bejaardes is van die mense wat sonder enige huisvesting op straat beland het nadat die Wes-Kaapse departement van openbare werke ʼn hofbevel bekom het om hulle uit ʼn tehuis vir mishandelde vroue en kinders te plaas.

Me. Erika Botha-Rossouw, Wes-Kaapse woordvoerder van die VF Plus se vrouekomitee, sê teen gisteraand het die mense steeds onder die ope sterrehemel in die winterkoue geslaap sonder enige geriewe hoegenaamd.

Sy sê die mense is reeds middel verlede week uit die tehuis, Geneva’s House in Eersterivier gesit nadat die betrokke departement ʼn uitsettingsbevel bekom het omdat mense glo onregmatig op die perseel gewoon het.

Volgens Botha-Rossouw gaan dit nie oor die meriete van die uitsettingsbevel nie, maar oor die onmenslike optrede van die DA-provinsiale regering wat weerlose kinders en bejaardes aan die elemente oorlaat. Die mense het gisteraand steeds buite geslaap.

“Ek het gisteraand laat met die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Albert Fritz, gepraat oor die aangeleentheid, en sy verskoning was bloot dat werkers van die departement gedreig word by die perseel.

“Dit is onaanvaarbaar. Die polisie kan saamgeneem word om die amptenare te beskerm, maar ons kan nie toelaat dat kinders langer aan die elemente blootgestel moet word nie. Dit kan werklik lewensgevaarlik wees.

“Die VF Plus wil nie in konflik met die provinsiale regering hieroor gaan nie, maar vra die afgelope paar dae om saam te werk om ʼn oplossing te vind vir die probleem. Tot op hede wil dit voorkom of die Wes-Kaap totaal ongevoelig teenoor die mense staan,” sê Botha-Rossouw.