Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die Grondwethof oor Nkandla. Dit is ‘n rigtinggewende uitspraak met enorme implikasies. Na vandag kan die ANC nie voortgaan met pres. Zuma as hulle leier of as president van Suid-Afrika nie. Vandag se uitspraak verbreek finaal president Zuma se magiese houvas op die ANC en mense binne sy direkte bevoordelingskring. Geen grondwetlike demokrasie kan verwag om ernstig opgeneem te word wanneer die hoogste hof in die land bevind dat sy president sy grondwetlike ampseed verbreek het en nie die Grondwet beskerm of gerespekteer het nie. President Zuma behoort dadelik as president te bedank of alternatiewelik deur die ANC herroep te word.

Die glashelder uitspraak van die Grondwethof was ‘n basiese les in staatsreg en die funksionering van ons grondwetlike bestel. Die hof het sy uitspraak gegrond op feitlik al die argumente wat deur die VF Plus en ander opposisiepartye die afgelope twee jaar in verskeie parlementêre prosesse aangevoer is. Nie pres. Zuma of die ANC-meerderheid in die parlement wou hierdie waarhede toe aanvaar of ter harte neem nie. Dit is nou ook duidelik hoekom ek die misplaaste verslag van die ad hoc-komitee wat pres. Zuma onskuldig bevind het, in die parlement opgeskeur het. Dit was ook noodsaaklik dat die VF Plus sy rol enduit gespeel het in die ad hoc-komitee en parlementere prosesse. Daardeur is eers alle ander remedies suksesvol uitgeput sodat daarna met sukses na die Grondwethof gegaan kon word.

Dit is verder belangrik dat die magte en bevoegdhede van die Openbare Beskermer (OB) finaal en duidelik bepaal is. Remediërende stappe geneem deur die OB is bindend tensy dit op hersiening deur ‘n hof ter syde gestel is. Nooit weer sal dit nodig wees om na onsinnige politieke argumente daaroor van enige meerderheidsparty te luister nie. Vandag was ‘n goeie dag vir Suid-Afrika en het die regsprekende gesag gedoen wat reg is. Nou is die onus op die uitvoerende- en wetgewende gesag om daardie voorbeeld te volg.