Die Vryheidsfront Plus se burgemeesterskandidate in Gauteng is ʼn groep met baie jare se politieke en munisipale ervaring. Die verrassing is dat adv. Anton Alberts, Gauteng-leier en parlementslid, as die burgemeesterskandidaat in Pretoria/Tshwane genomineer is. Daarbenewens is ʼn derde van die kandidate vroue met heelwat dienslewerings-ervaring. Die Vryheidsfront Plus in Gauteng het vandag sy burgemeesterskandidate bekend gestel.

Die burgemeesterskandidate in Gauteng is die volgende:

  1. Pretoria/Tshwane: Adv. Anton Alberts
  2. Johannesburg: Franco de Lange
  3. Krugersdorp/Mogale: Amanda de Lange
  4. Ekurhuleni: Wiebe Schultz
  5. Emfuleni: Gerda Senekal
  6. Midvaal/Meyerton: Corrie Pypers
  7. Heidelberg/Lesedi: Mari Boshoff
  8. Randfontein/Westonarea: Jan du Bruyn
  9. Carltonville/Merafong: Ben van der Berg
Anton Foto in Kantoor
Adv. Anton Alberts

Adv. Anton Alberts – Pretoria/Tshwane: (Foto aangeheg)

Adv. Alberts is onder meer bekend vir sy stryd namens die Transnet pensioenarisse, die stryd teen die Gautengse e-tolstelsel, die suksesvolle inisiëring van die Verbruikerskommissie se ondersoek teen misbruike in die vakansieklub-bedryf, en die klag teen president Zuma by die Menseregtekommissie aangaande sy demonisering van minderhede wat tans deur die Kommissie ondersoek word.

Die VF Plus is tans die derde grootste party in die Tshwane-metroraad en alle aanduidings is dat die metro na die verkiesing deur ʼn koalisie van partye regeer sal word. Indien daar na die verkiesing sprake is van koalisievorming, sal adv. Alberts die VF Plus in die onderhandelinge lei ten einde ʼn nuwe plaaslike regering in Pretoria/Tshwane daar te stel.

Gerda Senekal – Emfuleni:

Gerda Senekal van Emfuleni is ‘n vorige presterende DA-koukusleier wat nou ʼn nuwe tuiste in die VF Plus gevind het weens die DA se miskenning van minderhede en wat Emfuleni tans verander in een van die bes presterende gebiede vir die party.

Amanda de Lange – Krugersdorp/Mogale:

Amanda de Lange in Krugersdorp is die VF Plus se bestaande raadslid met baie raadservaring. Sy is ʼn baie bekende en geliefde gesig in die dorp wat vele diensleweringsprobleme reeds effektief aangespreek het.

Mari Boshoff – Heidelberg/Lesedi:

Mari Boshoff is ʼn dienende VF Plus-raadslid in Heidelberg wat veral reuse werk verrig om die plaaslike boere by te staan teen myn-maatskappye wat in die area wil myn.

Franco de Lange – Johannesburg:

Franco de Lange is tans die dienende raadslid in Johannesburg met baie jare ervaring as raadslid. Dit is onder meer aan hom te danke dat pensioenarisse van 70 en ouer nie eiendomsbelasting op eiendom onder die waarde van R2 miljoen hoef te betaal nie.

Corrie Pypers – Midvaal/Meyerton:

Corrie Pypers in Midvaal is ʼn bekende oud-Transvaalse rugbykaptein en het verskeie gevalle van wanadministrasie in die Midvaal-munisipaliteit oopgekrap wat tot ʼn verdoemende verslag van die Openbare Beskermer (OB) gelei het.

Wiebe Schultz – Ekurhuleni:

Wiebe Schultz is tans die VF Plus se streekleier in Ekurhuleni en het jare se ervaring in die politiek. Hy het reuse werk gedoen onder behoeftige pensioenarisse ten einde vir hulle behoorlike behuising te verseker.

Jan du Bruyn – Randfontein/Westonarea en Ben van der Berg – Carletonville/Merafong:

Jan du Bruyn van Randfontein en Ben van der Berg van Carletonville is albei verbonde aan die mynwese en help tans oud-mynwerkers wat siek geword het weens silikose (myntering) om in aanmerking te kom vir die hangende groepsgeding teen mynhuise.

Die VF Plus is trots om die groep vroue en mans as burgemeesterskandidate voor te stel. Die party is verseker van goeie groei in die verkiesing met die sulke mense aan die stuur.