Die VF Plus gaan die Openbare Beskermer (OB) vra om die omstandighede rondom die aanstelling van PetroSA se nuwe voorsitter, Tshepo Kgadima, te ondersoek, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Luidens berigte in die Business Day en Die Burger ondersoek die polisie bedrogklagte van miljoene rande teen Kgadima. Hy het glo terwyl hy bestuurshoof en president van LontohCoal was, honderde beleggers ingeloop deur aandele in fiktiewe projekte aan hulle te verkoop.

Die Business Day beskuldig ook vir Tina Joemat-Pettersen, minister van energie, daarvan dat sy Kgadima aanbeveel het vir die pos. Sy het die beskuldiging verlede week in die parlement ontken.

Adv. Alberts sê die pos van voorsitter van PetroSA is van die grootste strategiese belang in Suid-Afrika se energiebedryf en gesien teen die agtergrond van die bewerings, is dit van die grootste belang dat die OB alle verwante besonderhede rondom die aanstelling ondersoek.

“Die VF Plus sal die OB onder meer vra om vas te stel of die korrekte prosesse in die aanstelling gevolg is en of Kgadima geskik is vir die pos.

“In die lig van die klagte teen Kgadima, wat glo ʼn bekende internasionale swendelaar is wat na bewering selfs ʼn gewese ANC-kabinetminister, Zola Skweyiya bedrieg het, is Joemat-Pettersen se bewerings dat sy nie van sy doen en late bewus was nie, onaanvaarbaar.

“Ons sal die OB ook vra om Joemat-Pettersen se verbintenis met Kgadima te ondersoek, asook die bewering dat sy hom vir die pos aanbeveel het,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts het ʼn onderneming wat glo ʼn kontrak met LontohCoal aangegaan het om mineraalregte aan LontohCoal te verkoop, aan die VF Plus vertel van hul ervaring met Kgadima en dat hulle glo R10 miljoen verloor het nadat ʼn kontrak nie nagekom is nie. Intussen het die maatskappy ander geleenthede om die regte te verkoop, ook verloor.