Die ANC-regering se rassisme op die sportveld kan nie langer geduld word nie en die VF Plus gaan skrywes rig aan verskeie internasionale sportliggame asook die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) om die ANC se rassistiese sportbeleid onder hulle aandag te bring, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê die VF Plus sal daarop aandring dat die liggame hulle distansieer van enige vorm van rassisme op die sportveld, en dat hulle ondersoek instel na die sogenaamde kwotastelsel wat die regering aan sport in Suid-Afrika opdwing.

Die VF Plus gaan ook ʼn skrywe rig aan die ambassadeurs van die grootste lande met wie Suid-Afrika sportbetrekkinge het, en hulle vra om Suid-Afrika se sportbeleid onder hul regerings se aandag te bring.

Volgens adv. Alberts het die media in Australië en Nieu-Seeland wyd berig oor die feit dat ʼn Suid-Afrikaner van geboorte, Grant Elliot, wat die land as jong sportman weens die kwotabeleid verlaat het, Nieu-Seeland gehelp het om die halfeindstryd van krieket se wêreldbekertoernooi teen Suid-Afrika te wen.

“ʼn Mens sou hierdie onbedoelde gevolge van die regstellende aksie (RA)-beleid kon noem, maar die beleid is so rassisties en vergeldend op elke gebied in die land dat dit ons sport nog op sy knieë gaan dwing
net soos dit met Eskom gedoen het.

“RA is besig om Suid-Afrika te transformeer tot ʼn grys en middelmatige gelykheid wat gegeld het in kommunistiese Oos-Duitsland waar individuele prestasie van enige aard onaanvaarbaar was en selfs vervolg is.

“In Suid-Afrika het dit ʼn besonderse vorm aangeneem waar wit prestasie aan rassisme gelyk gestel word. Deur die speel van die rassisme-kaart word die fut sielkundig uit gewone mense geneem deur hulle toegang te verbied tot geleenthede bloot omdat hulle wit is.

“Selfs bruin mense is nou ook nie meer swart sover dit geleenthede op
die sportveld aanbetref nie, en die ANC het by herhaling gesê dat
swartes na wie die kwotas verwys, ‘etniese’ swartes moet wees.

“Hierdie optrede van die ANC-magshebbers en denkpolisie dwing uiteindelik talentvolle mense om die land te verlaat en dit gaan al hoe meer gebeur. Dis tyd vir diegene wat aan die verkeerde kant van regstellende aksie staan, wit en bruin, om saam te staan en die ANC hieroor te konfronteer,” sê adv. Alberts.