Belangrike inisiatiewe om agtergeblewe gebiede op te hef, soos die Streek Nywerheids Ontwikkelings Programme (SNOP) en die Streek Ontwikkelings Advies Komitees (SOAK) van die vorige bedeling, is weens ‘apartheidskonnotasies’ laat vaar en intussen is 20 jaar vermors om werk na mense in dié gebiede te bring, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie het gister tydens ʼn bespreking van die instelling van ʼn Spesiale Ekonomiese Sone vir Atlantis gesê die VF Plus het deurentyd ‘heelhartig’ die beginsel gesteun om ʼn agtergeblewe gebied soos Atlantis ekonomiese stukrag te gee deur dit tot ʼn Spesiale Ekonomiese Sone te verklaar.

Volgens mnr. Fourie moet mense soos die raadslid Tony Ehrenreich ‘vrede daarmee maak’ dat almal nie in Bishops Court kan woon nie en daarom moet dringend gekyk word na die ekonomiese opheffing van agtergeblewe gebiede soos Atlantis.

“Die nasionale regering behoort oorreed te word om betrokke te raak by hierdie soort inisiatiewe en Atlantis kan ʼn model word vir baie ander soortgelyke gebiede regdeur Suid-Afrika.

“Daar is vele modelle wat ekonomiese opheffing in die hand kan werk en een daarvan is Vry Ekonomiese Sones wat veral by hawedorpe soos Saldanha en Mosselbaai met groot sukses ingestel kan word. Daarvoor is versiendheid gekoppel met entrepreneurskap die wagwoord.

“Sulke inisiatiewe trek beleggers veral waar belastingvrye sones die wagwoord is en indirek betaal daardie beleggers vir die ontwikkeling namens die regering terwyl werk geskep word vir onderontwikkelde gebiede.

“Suid-Afrika beskik oor ongekende potensiaal, maar owerhede hou hulle met beuselagtighede besig en soek nie oplossings vir die hoofprobleme wat die ekonomie lamlê soos deur die vorige minister van finansies, Pravin Gordhan, uitgewys is nie. Dit is misdaad, beleggers-onvriendelike arbeidswetgewing en onsekerheid oor elektrisiteitsvoorsiening.

“Hierdie tipe van Atlantis-inisiatiewe moet met mag en mening gedryf en geïmplementeer word, ook in die res van die metro en die provinsie. Werkskepping bly die kern van ons oplossings en daarom wens die VF Plus hierdie Atlantis-projek net die allerbeste toe op sy steil pad vorentoe.