Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die plaaslike regeringsverkiesingsdatum. Dit bring sekerheid en daarom moet kiesers hierdie registrasienaweek benut om seker te maak hulle is geregistreer as kiesers of opnuut te registreer indien nodig.

Die agteruitgang van munisipaliteite in Suid-Afrika maak vanjaar se plaaslike verkiesing van die allergrootste belang en kiesers word aangemoedig om seker te maak hulle is geregistreer om deel te neem. Te veel kiesers het in die verlede in die hitte van die verkiesing besluit om wel te stem, net om agter te kom dat hy nie geregistreer is nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die VF Plus bied verskeie spesiale dienste in ʼn poging om hiermee te help. Ten einde vas te stel of jy geregistreer is, kan jy net jou ID-nommer in ʼn sms na 34139 stuur. Sms’e kos R2. Dit sal ook aandui waar jy geregistreer is.

Kiesers kan ook ʼn diensnommer skakel om vas te stel of hulle geregistreer is, en waar. Die nommer wat geskakel kan word, is 0861-700-700.

Dieselfde inligting kan verkry word deur die webblad www.isekgeregistreer.co.za of www.amiregistered.co.za te besoek, of om die VF Plus se webblad te besoek by www.vfplus.org.za. Kliek dan op die skakel “Is ek geregistreer” om u registrasie-status te sien.

Persone wat nooit voorheen geregistreer het nie, of wat van adres verander het, kry hierdie naweek (9 en 10 April) ʼn geleentheid om te registreer met alle stempunte wat oop sal wees.

Indien die wyksgrense waarin u woon verander het, kan dit ook wees dat u in ʼn ander wyk ingedeel is en u sal dan in die nuwe wyk moet registreer.

Alhoewel die twee dae spesiaal vir registrasie gereserveer is, kan u wel gedurende weekdae by die OVK-kantoor by u plaaslike munisipaliteit registreer. Kieserslyste sluit sodra die verkiesingsdatum amptelik in die Staatskoerant geproklameer word. Daarna sal kiesers nie meer kan registreer nie.