Die skokkende syfers oor werkloosheid wat gister deur Statistiek Suid-Afrika bekend gemaak is, staan in skrille kontras met pres. Jacob Zuma se verkiesingsbeloftes vroeër vanjaar om binne ʼn afsienbare tyd 6 miljoen nuwe werkgeleenthede te skep indien die ANC herkies sou word.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor Arbeid, sê veral die syfers rakende landbou is erg kommerwekkend, maar dat die VF Plus lank reeds waarsku teen werkverliese te wyte aan die ANC se arbeidsbeleid en die feit dat veral boere geteiken word deur opstokers wat geweld en wanorde in die landbousektor aanjaag.

ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die onrus op plase by De Doorns in die Wes-Kaap.

Adv. Alberts sê boere gaan toenemend op groot skaal begin meganiseer en hul bedrywighede so ver moontlik afskaal om met net die allernodigste werkers oor die weg te kom.

“Die ANC-regering betaal nou duidelik die prys vir sy rigiede arbeidswetgewing. Werkloosheid gaan in die afsienbare toekoms sterk toeneem en dit sal ook in sektore soos veral mynbou gesien word.

“Die industrialisasie-aksieprogram van die departement van handel en nywerheid is ʼn moedige poging om die ekonomie en werkskepping te stimuleer, maar dit sal geen vordering maak met die strukturele probleme wat striemende arbeidswetgewing en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) veroorsaak nie.

“Met die president se beloftes in Januarie oor die 6 miljoen werkgeleenthede het hy onder meer gesê dit sal gedoen word deur groot werkskeppingsprogramme in die openbare sektor.

“Kort daarna, met sy staatsrede in Februarie, het hy weer gesê die regering sal ingryp om werkers se omstandighede te verbeter met die daarstelling van ʼn minimum-loon. Minimum-lone is juis een van die redes vir werkverliese.

“Dit is hierdie soort teenstrydighede wat ʼn mens laat wonder oor die regering en sy leiers se vermoë om hoegenaamd ʼn wesenlike verbetering in die land se ekonomie en sy arbeidsprobleme te bewerkstellig,” sê adv. Alberts.