Rassistiese uitsprake van individue soos Andre Slade, gastehuiseienaar van Sodwana, speel in die hande van mense wat Suid-Afrika rassisties wil polariseer en dit moet ten sterkste veroordeel word, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê dit is onbegryplik dat daar vandag nog mense soos Slade in Suid-Afrika kan wees. Sy rassistiese opmerkings is werklikheids- en Bybelvreemd – al dink hy blykbaar anders.

“Ongelukkig is daar nêrens in die wêreld bewyse dat wetgewing teen rassisme, soos wat die regering oorweeg, individue soos Slade se denke of vooroordele sal verander nie.

“ʼn Samelewing kan nog individue soos Slade oorleef, maar so ʼn samelewing is in die moeilikheid as leiers sulke rassistiese opmerkings begin maak as deel van hul politieke sienings of vir doeleindes van verkiesingspropaganda.
“Leiers stel die voorbeeld en bepaal tot ʼn groot mate die klimaat waarin mense van mekaar verskil en oor mekaar praat. Die algemene goeie verhoudinge in president Nelson Mandela se tyd as president bevestig dit.

“Om verskeie redes het verhoudinge in Suid-Afrika die afgelope paar jaar agteruitgegaan wat betreur word,” sê dr. Mulder.