Landwye kragonderbrekings wys dat die ANC-regering magteloos staan terwyl Suid-Afrika en al sy inwoners gyselaar gehou word deur vakbonde wat bereid is om die land se ekonomie te vernietig vir eie gewin.

In hierdie stadium lyk die prentjie in alle opsigte donker met dreigemente van ‘n landwye staking wat die land totaal kan lamlê indien daar nie aan al die vakbonde se looneise gehoor gegee word nie.

Die oorsaak van hierdie krisis moet vierkant voor die deur van die ANC gelê word wat toegelaat het dat vakbonde se mag ter wille van steun toegelaat is om buite beheer te raak.

Die probleem is vererger deur endemiese korrupsie, bedrog en wanbestuur by die kragvoorsiener wat sienderoë toegelaat is om as deel van staatskaping die norm in Suid-Afrika te raak.

Eskom se inkomste is tans minder as sy agterstallige skuld en een van die groot redes hiervoor is die agterstallige skuld van munisipaliteite wat ‘n kenmerk is van die skadelike gevolge van onbevoegdheid wat Regstellende Aksie (RA) veroorsaak het.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die publiek om toenemend selfversorgend te raak wat kragvoorsiening aanbetref. Die land stuur al hoe vinniger af na die rand van ‘n fiskale afgrond.

Slegs ‘n sterk koalisieregering met die VF Plus as vennoot en kampvegter vir die vryemark, en die belastingbetaler se stem kan Suid-Afrika van ondergang red.