Die jongste “omkeerstrategie” by die SAL nadat tien vorige omkeerpogings misluk het, plaas ʼn swaar las op die belastingbetaler en die redery moet geprivatiseer word om verdere vermorsing van belastinggeld stop te sit, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement van finansies gesê die SAL is tegnies bankrot en finansiële state word nie eens ingedien nie.

Hy sê die rede hiervoor is ʼn versoek van die SAL om ʼn subsidie van R5 miljard van die tesourie te verkry terwyl die tesourie aandring op sekere sekerheidsondernemings alvorens die geld beskikbaar gestel kan word. Dit kom neer op ʼn “skaakmatsituasie”.

“Sedert 1999 tot op hede het die SAL reeds meer as R30 miljard se staatshulp of subsidies gekry. Sommige mense reken die bedrag is nader aan R45 miljard. Daar is ʼn houding onder die bestuur dat prestasie nie belangrik is nie en geld nie ʼn probleem is nie want die tesourie sal maar net weer gee. Dit is mos eenvoudig onaanvaarbaar om die belastingbetaler se geld so te mors.

“Wat dan verstom is dat die bankrot redery nou ʼn borgskap van vyf jaar vir die nasionale sokkerspan, Bafana Bafana gegee het.

“Dit gaan hier nie oor watter span geborg word nie, maar oor die beginsel dat ʼn entiteit wat tegnies bankrot is, nou direk geld van die belastingbetaler gebruik om ʼn borgskap te gee aan ʼn sportspan. Hy kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

“Die detail rondom die borgskap is onbekend, maar die VF Plus doen ʼn beroep op die minister om in te gryp in sulke gevalle van vermorsing.

“Die VF Plus het nie ʼn probleem daarmee as sportspanne geborg word nie, maar dan moet hulle dienooreenkomstig presteer om die borgskap sinvol te maak. Die sokkerspan het egter gaandeweg verswak en is nou in die 70ste plek op sokker se wêreldranglys.

“Die tyd het aangebreek dat die SAL geprivatiseer word sodat daar ʼn einde kan kom aan die verkwisting van belastinggeld,” sê dr. Groenewald.