Dit is uiters onverantwoordelik en kommerwekkend dat alle wit vlieëniers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nou onder verdenking geplaas word deur hulle selfs van ‘sabotasie’ te beskuldig, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Luidens ʼn berig in die Business Day Live is mnr. John Harty, voorsitter van die SAL se vlieëniersvereniging verlede Vrydag deur die Valke ondervra oor onder meer ʼn beweerde komplot om ʼn vlug waar ʼn swart kaptein in beheer sou wees te verongeluk (bring it down).

Luidens die berig het Harty gesê hy is selfs gevra of hy weet ‘wat verraad (treason) beteken’.

Dit het gevolg kort na uitlatings van die SAL se raadsvoorsitter, me. Dudyu Myeni, dat inligting wat vanuit die raad na die media lek, ‘rassisties gemotiveerd’ is. Sy het toe ook bevestig dat die Valke ʼn ondersoek doen wat ‘verder strek’ as die lugdiens se geldprobleme.

Onlangs het Myeni ook in die parlement ʼn aanval op wit vlieëniers gedoen deur te sê hulle is ‘rassisties en oorbetaal’.

Harty en die vlieëniersvereniging het daarna ʼn vergadering gehou waar ʼn mosie van wantroue in Myeni gestel is.

Adv. Alberts sê dit is duidelik dat veral Myeni uiters onverantwoordelik optree en sodoende groot rassewrywing veral in vlieëniersgeledere veroorsaak.

“Hierdie beweringe kan nie ongetoets in die lug bly hang soos ʼn swaard oor die koppe van die wit vlieëniers nie. Die mense werk in ʼn omgewing waar hulle verantwoordelik is vir die lewe van honderde passasiers, en hulle kan nie aan hierdie onnodige druk onderwerp word nie.

“Die minister sal onmiddellik moet ingryp, en wie ook al hierdie beweringe gemaak het, sal sonder meer met die bewyse na vore moet kom, of die bewerings moet teruggetrek word.

“Die rassistiese uitlatings van Myeni kan ook nie langer geduld word nie. Haar uitlatings volg die nou al bekende patroon waar die skuld op wittes gepak word om die aandag af te lei van die mislukkings van die staat of staatsinstellings soos die SAL,” sê adv. Alberts.