Gaan die ANC nou pensioenfondse teiken, of is dit ten minste voorlopig steeds veilig? Dit is die vraag wat ontstaan nadat ANC-dubbelpratery oor die aangeleentheid, soos in talle ander gevalle, tot groot onsekerheid oor belangrike beleidsake lei, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies.

In sy antwoord op ʼn parlementêre vraag van adv. Alberts oor pensioene, sê die minister van finansies, Nhlanhla Nene, onder meer hy ‘oorweeg geen planne wat aan private of openbare pensioenfondse sal voorskryf’hoe om hul geld te belê nie.

Dit is in skerp teenstelling met die onlangse uitlatings van Paul Mashitile, ANC-voorsiter in Gauteng, dat die ANC met sy volgende algemene raadsvergadering in Oktober vanjaar na maniere sal kyk om werkers meer te ‘bemagtig’ deur aan te dui hoe en waar hul pensioengeld belê moet word. Volgens Mashatile is dit ʼn poging om Suid-Afrika se ekonomie te ‘transformeer’.

Adv. Alberts se parlementêre vraag aan Nene lui:

“Word enige plan oorweeg om private en openbare pensioenfondse te dwing om meer geld in ontwikkelingsprojekte te belê? Indien nie, sal dit in die toekoms oorweeg word, en indien wel, wat word beplan?”

Nene antwoord dat hy nie sulke planne oorweeg nie, en dat dit belangrik is om daarop te let dat dit die taak van ʼn pensioenfonds se trustees is om op ʼn beleggings-strategie te besluit in oorweging van alle faktore in die belang van langtermyn-groei.

Hy sê voorts al wat die regering doen, is om ʼn ‘breë raamwerk’ te verskaf om risiko’s vir die fondse te verminder en sodoende sy lede te beskerm.

Hy weerspreek homself dan deur te erken dat daar wel regulasies in plek is wat fondse ‘verplig’ om beleggings in ontwikkelingsprojekte rakende infrastruktuur te ‘oorweeg”. (Die volledige antwoord word hiernaas geplaas).

Adv. Alberts sê die ‘verpligting’ wat oënskynlik aan die fondse se ‘oorweging’ oorgelaat word, is eweneens verwarend en die vraag kan gevra word hoe openlik die minister se antwoord is, en in hoe ʼn mate dit die groei van die fondse demp.

“Hierdie verwarring, wat ʼn kenmerk van ANC-beleid veral oor die ekonomie geword het, is uiters skadelik, veral gesien teen die agtergrond van die verwoesting van Transnet se twee fondse.

“Die ANC het Suid-Afrika die afgelope 21 jaar tot op die rand van ekonomiese ineenstorting ‘getransformeer’. Ons ekonomie huiwer op die rand van rommelstatus. Die staat se geld raak op, en die VF Plus het geen twyfel nie dat pensioene wel stewig in die ANC se visier is,” sê adv. Alberts.