Die ontplooiing van ‘n bykomende 73 180 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) om die polisie te help om Covid-19-regulasies af te dwing, laat talle kwelvrae ontstaan. Dit bring die totale aantal ontplooide soldate op 76 000 teen ‘n geraamde koste van R4,59 miljard.

In wese beteken dit die totale mannekrag van die SANW. ‘n Reserwemag van sowat 21 000 soldate is ook nog beskikbaar. Dit laat die vraag ontstaan of sekere inligting van die publiek weerhou word in terme van die
Covid-19-pandemie en of daar ‘n groter krisis verwag word waarvoor soveel soldate ontplooi moet word.

Hierdie onduidelikheid skep kommer en groot onsekerheid by die algemene publiek oor die toekoms en die werklike omvang van die Covid-19-krisis in Suid-Afrika. Dit wek ook vrese by die publiek, veral in die lig van
gewelddadige optrede deur soldate, en die president moet so gou as moontlik duidelik uitspel wat die spesifieke redes is vir die omvangryke ontplooiing van soldate.

Hierdie ontplooiing van soldate kom in die praktyk neer op ‘n noodtoestand in Suid-Afrika en die Rampbestuurswet word nou misbruik om sekere grondwetlike vereistes vir ‘n noodtoestand te omseil. In terme van Artikel 37 van die Grondwet, is daar streng parlementêre oorsig oor ‘n noodtoestand
terwyl onder die Rampbestuurswet daar feitlik geen parlementêre oorsig is nie.

Hierdie is ‘n ernstige leemte wat die VF Plus sal aanspreek deur ‘n Privaatlid-wysigingswetsontwerp op die Wet op Nasionale Rampbestuur by die parlement in te dien.

Talle vrae ontstaan oor of die SANW wel oor die vermoë beskik om 76 000 soldate beskikbaar te stel nieteenstaande die 21 000 reserwemaglede.

Die president het Suid-Afrika in die steek gelaat deur nie te verduidelik waarom hy die SANW ontplooi nie terwyl hy ‘n gulde geleentheid gehad het om dit te doen.