Die ANC-regering ignoreer die Grondwet en ander landswette steeds makliker. Die regering se implementering van die Taalwet en die Omar el-Basjhir-insident is die mees onlangse voorvalle, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Op ʼn vraag van die Vryheidsfront Plus in die portefeuljekomitee vir kuns en kultuur, het die departement hierdie week bekend gemaak dat slegs 15 van die 47 staatsdepartemente tot op datum hul taalbeleid bekend gemaak het. Nog tien departemente het slegs konsep-taalbeleide opgestel, sê dr. Mulder wat die vrae gestel het.

“Dit beteken dat bykans helfte van alle staatsdepartemente die Grondwet en die Taalwet se bepalings blatant ignoreer.

“Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Wet 12 van 2012) verplig alle staatsdepartemente om ʼn taalbeleid te aanvaar en in hul betrokke departement te implementeer. Die wet is aanvaar nadat die ANC regering met ʼn hofsaak verplig is om uitvoering aan artikel 6(4) van die Grondwet te gee.

“Dié Grondwet-artikel verplig die regering om deur wetgewing die Grondwet se talebeleid te implementeer. Die feit dat die Taalwet eers in 2012, 18 jaar na 1994 aanvaar is, is reeds ʼn aanklag teen die ANC-regering.

“Na die aanvaarding van die Taalwet het die minister van kuns en kultuur verskeie sperdatums gestel waartydens staatsdepartemente aan die vereistes van die wet moes voldoen. Die sperdatums is telkens uitgestel.

“Die laaste sperdatum was 2 Mei vanjaar. Nieteenstaande die feit dat sperdatums meer as een keer aangeskuif is, het slegs 25 van die 47 departement tot nou toe aandag aan die saak gegee. Hiervan is tien nog net konsepvoorstelle.

“Die ANC-regering betoon slegs lippetaal aan die Grondwet en het geen erns met die Grondwet se taalklousules wat ʼn veeltalige Suid-Afrika in die vooruitsig stel nie. Sy gebrek aan optrede sedert 1994 tot nou bevestig dit.

“As die situasie nie binnekort verbeter nie, sal daar geen alternatief wees nie as om weer na hofsake te kyk ten einde die regering te dwing om sy grondwetlike verpligtinge na te kom nie,” sê dr. Mulder.