Die ANC se geneigdheid om eensydige besluite te neem, soos nou weer onderstreep is met die sluiting van die Roodepoort Primêre Skool in Davidsonville, Gauteng, het grootliks aanleiding gegee tot vandag se geweld by die skool waarin verskeie ouers beseer is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir basiese onderwys.

Adv. Alberts sê veral die bullebak-optrede van die provinsie se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi moet in hierdie geval, net soos sy pogings om Afrikaanse skole te wil dwing om te verengels, ten sterkste veroordeel word.

“Van die skool se ouers het reeds voor vandag se konflik hul ongelukkigheid teenoor die VF Plus uitgespreek oor Lesufi se outokratiese houding.

“Hulle was ongelukkig omdat die departement nie ʼn Afrikaanse hoof wou aanstel nie, en was van mening dat daar nie behoorlik met hulle gekonsulteer is oor die aangeleentheid nie.

“Die VF Plus is reeds gevra om met die ouers gesprek te voer ten einde die departement te oorreed om na hulle te luister. Die gesprek vind eerskomende Donderdagmiddag plaas.

“Die les wat die ANC hieruit kan neem is dat moedertaalonderrig iets is wat baie vir minderheidsgemeenskappe beteken, en dat gevoelens wat dit aanwakker nie ligtelik opgeneem kan word nie,” sê adv. Alberts.