Die besluit van die DA se Wes-Kaapse parlement dat Engels voortaan sy voorkeurtaal sal wees en dat sy Hansarddienste slegs in Engels beskikbaar sal wees, is uiters teleurstellend aangesien die laaste sensus getoon het dat 49% mense in die provinsie Afrikaans praat teenoor slegs 20.2% Engels, sê dr. Corné Mulder, LP en VF Plus-leier in die Wes-Kaap.

Dr. Mulder sê die besluit is ʼn gevoelige slag vir meertaligheid in die provinsie. Hy sê die Hansard was tot op hede beskikbaar in Engels, Afrikaans en Xhosa in ʼn poging om meertaligheid te bevorder.

Voortaan sal toesprake in Afrikaanse en Xhosa in Engels vertaal word. Engelse toesprake sal egter nie in Afrikaans en Xhosa beskikbaar wees nie. Alles wat dus op ‘n parlementêre sitting of vergadering in Afrikaans of Xhosa gesê word, sal in die Engelse Hansard verskyn.

“Wanneer daar gepraat word oor die taalkwessie, soos onlangs by die Universiteit van Stellenbosch, dan sê die DA hy steun Afrikaans en meertaligheid. Wanneer dit egter in die praktyk kom, wys die party sy ware kleure oor taal en Afrikaans in die besonder – en verloën hy juis die beskerming soos bepaal in die Wes Kaap Grondwet.

“Dit is vir die VF Plus nie aanvaarbaar dat die parlement van ʼn provinsie sy inwoners so misken soos hier nie. Selfs Xhosa op 24.7% word meer gepraat as Engels.

“Dit is ironies dat alhoewel die Grondwet van die Wes-Kaap gelyke erkenning aan Afrikaans, Engels en Xhosa verleen en die DA hier in beheer is, hy nie meertaligheid bevorder nie maar kies om Engels te gebruik. Hiermee maak die DA hom die vyand van Afrikaans en Xhosa.

“Jy kan nie in een asem sê jy erken die Wes-Kaap se drie tale en dan misken jy Afrikaans, wat deur die meerderheid gepraat word bloot weens swak administratiewe/finansiële bestuur wat dit nie moontlik maak nie.

“Die VF Plus is verbind tot die beskerming van die regte van minderhede insluitende taal en kultuur-historiese-geskiedenis soos bepaal deur die Verenigde Nasies (VN) se 1992-Deklarasie oor Minderheidsregte en dit bly ons prioriteit.

“Hierdie doelwit kan net bereik word as die kieserspubliek die proporsionele kiesstelsel tot sy reg laat kom deur multi-party demokrasie volledig in werking te stel om as voorbeeld Afrikaans as minderheidsreg te beskerm.

“Hierdie is ʼn klap in die gesig van die meerderheid bruin en wit inwoners van die Wes-Kaap, en die DA sal voortaan oop kaarte moet speel met die publiek oor waar hy staan met Afrikaans,” sê dr. Mulder.