Nouer samewerking tussen die openbare sektor – die polisie – en die privaatsektor – die landbouers en plaaswerkers – is die enigste manier hoe plaasmoorde en veiligheid in die landelike gebiede verbeter sal kan word. In hierdie opsig moet lesse uit die verlede geneem word toe die kommandostelsel suksesvol was om misdaad in plattelandse gebiede te bekamp, volgens dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier.

Dr. Mulder het aan ʼn debat in die Diskoers-reeks by Aardklop oor grondhervorming en plaasmoorde deelgeneem. Die minister van polisie, mnr. Nkosinathi Nhleko, was ook ʼn deelnemer aan die debat.

“Waar ongeveer 50 uit elke 100 000 polisielede in Suid-Afrika vermoor word, is die syfer vir landbouers meer as 100 per 100 000. Dit beteken dat dit twee keer meer gevaarlik is om vandag ʼn landbouer in Suid-Afrika te wees as ʼn polisielid. Toe daar verlede jaar ʼn vlaag moorde op polisielede was, het die destydse minister onmiddellik ʼn spesiale beraad oor die probleem gereël. “Waarom word die posisie van landbouers nie op dieselfde wyse as ʼn prioriteit hanteer nie?” wou dr. Mulder weet.

Dr. Mulder wou ook weet waarom die nasionale polisiehoof, genl. Riah Phiyega, syfers aan die Menseregtekommissie oor plaasmoorde kon gee terwyl die polisie deurlopend op vrae in die parlement hieroor antwoord dat daar nie afsonderlike moordsyfers hieroor beskikbaar is nie.

Die skep van amptelike veiligheidstrukture op plaaslike vlak bestaande uit landbouers en plaaswerkers as reserviste en die polisie is die rigting waarin gedink moet word om die huidige plaasmoordprobleem op te los, volgens Mulder.