• Post category:All / Government

President Zuma se heraanstelling van minister Pravin Gordhan as minister van finansies sal help om die vertroue in die ekonomie te begin herstel, maar dit gaan nie die vertroue in president Zuma se leierskap herstel nie. Die skade wat die president so eiehandig aan sy beeld aangerig het, is onherstelbaar. Nogtans verwelkom die VF Plus die besluit as ʼn desperate poging om die reuse finansiële skade wat die land gely het, te probeer beperk.

Die geskiedenis sal wys dat die kortsigtige besluit om minister Nene met minister Van Rooyen te vervang, die begin van die einde van president Zuma se presidentskap is. Solank mnr. Zuma steeds president is, sal beleggers se vertroue in Suid-Afrika en talle kiesers se vertroue in sy oordeel as leier van Suid-Afrika nie herstel nie.

Dit is ook duidelik dat die ommekeer nie as gevolg van president Zuma se eie insig was nie, maar dat die druk van buite, gekombineer met regstreekse druk uit die ANC binnekring, die rede was. Dit bring hoop dat daar êrens binne ANC-geledere nog ‘common sense’ oor is.

Die eerste toets vir minister Gordhan is of hy minister Nene se besluite oor die Suid-Afrikaanse lugdiens gaan handhaaf of omkeer. Daarna sal hy beleggers en die kredietgraderingsmaatskappye moet oortuig dat hy sterk genoeg is om die president en die kabinet se vermorsing van geld te kan vasvat.

Minister Gordhan bevind hom verder in ʼn unieke situasie waar hy skielik sit met mnr. Tom Moyane as hoof van SARS en die gevolge van die heksejag na die vorige SARS-leierskap wat homself ook ingesluit het.