Die ANC-regering is tevrede dat wit en bruin regverdig behandel word en genoeg speelkans kry in die land se nasionale sokkerspan, blyk dit uit antwoorde van die sportminister op geskrewe parlementêre vrae van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Dit is nieteenstaande die feit dat daar in die afgelope Saterdag se Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan net een wit speler uit ʼn groep van 17 was, en daar tans net 1 wit en 2 bruin spelers in die eerstespan-groep van 27 is.

Die Bafana Bafana-groep vir die wedstryd die afgelope naweek in Donsonville, Soweto, het bestaan uit: Begin elftal: Khune (c), van Heerden, Gumede, Letlabika, Mngonyama, Motupa, Nyatama, Masango, Twala, Ntshangase, Gabuza. Die plaasvervangers was: Mabokgwane, Madisha, Mabena, Mxoyana, Ntuli, Wana.

Volgens die sokkerwerbwerf KICKOFF.com blyk dit dat net Marc van Heerden en die twee bruin spelers, Rivaldo Coetzee en Clayton Daniëls, tans goed genoeg vir die sukkelende span geag word.

Adv. Alberts sê die stand van sake en die antwoord van minister Fikile Mbalula is betreurenswaardig aangesien die minister verlede jaar aan homself en verskeie ander persone die onderneming gegee het om stappe te neem om meer wit en bruin spelers vir die span te laat speel.

Dit was nadat ontevredenheid ontstaan het oor die regering se aandrang dat ʼn sekere aantal swart spelers in die nasionale rugbyspan opgeneem moet word.

Die minister se volledige antwoord op adv. Alberts se vrae lui dat alle
sportspanne moet transformeer om aan die nasionale demografie te
voldoen, en dat die ‘huidige sokkerspan sowat 80% swart-, 9%
bruin/Indiër-, en 9% wit spelers het”.

“Dit beteken dat wit-, bruin- en Indiërspelers die geleentheid kry om gekies te word,” lui die antwoord.

Adv. Alberts sê dit is jammer dat die minister, nieteenstaande die bewyse op die veld, die publiek so probeer mislei.

“Gister het die hele land saam die Springbokke se wêreldbeker-oorwinning 20 jaar gelede gevier. Dit was een van die min ware oomblikke van nasiebou wat die land beleef het.

“Tog sal die regering aanhou om met politieke inmenging ons sportspanne af te breek tot hulle in middelmatigheid verval soos met Eskom en die land in sy geheel gedoen word,” sê adv. Alberts.