Die Amerikaanse FBI se ondersoek na Suid-Afrika se betrokkenheid by Fifa-sokkerbedrog, en in besonder die aanbieding van die 2010-wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, gaan volstoom voort, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Amerika se pers-attaché in Suid-Afrika, me. Cynthia Harvey, het op navraag aan die VF Plus gesê dié ondersoek geniet aandag ‘op die hoogste vlak’.

Sy het gesê dit is ʼn ‘oop ondersoek’, en is so sensitief dat alle ‘direkte vrae’ daaroor deur Amerika se justisie-departement self hanteer word.

Adv. Alberts sê die ANC sal weldra agterkom dat internasionale skandale en gepaardgaande ondersoeke nie so maklik soos interne aangeleenthede gemanipuleer, doodgeswyg of toegesmeer kan word nie.

Die jongste verwikkeling volg nadat die Valke verlede week bevestig het dat hul ook steeds besig is met ʼn ondersoek aan die hand van ʼn klag wat die VF Plus begin verlede maand (Junie) ingedien het. Die klagstaat van die FBI, soos dit deur Amerika se prokureur-generaal voorgehou is, is as grondslag vir die klag gebruik.

Die VF Plus het in die besonder gevra dat ondersoek gedoen moet word na die bewering dat Danny Jordaan, hoof van die Suid-Afrikaanse sokkerfederasie (Safa) en nuut verkose burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, die betaling gemagtig het.

Die rol van die voormalige Safa-baas Molefi Oliphant, wat glo ʼn brief geskryf het om aan te beveel dat die geld bestuur moes word deur die voormalige Fifa-grootbaas Jack Warner, vorm deel van die klag.

Middel verlede maand is in die media berig dat die Valke-ondersoek laat vaar is, maar die Valke se woordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, het in ʼn skrywe aan die VF Plus bevestig die klag word ondersoek en dat die speurders ‘ruimte gegun moet word om ʼn deeglike ondersoek te doen’.

Adv. Alberts sê die VF Plus het nou ʼn skrywe aan Amerika se departement van justisie gerig met opvolgvrae oor die ondersoek.

“Ons besef dat hulle nie detail bekend sal maak nie, maar wil graag bevestiging hê dat die Suid-Afrikaanse owerhede en polisie hul samewerking in die ondersoek gee,” sê adv. Alberts.