Skokkende bewerings van wydverspreide korrupsie onder die dekmantel van die COVID-19-pandemie kom toenemend onder die aandag van die VF Plus en die party is bekommerd oor die stroping van die rampfonds en die staatskoffers wat in die afsienbare toekoms ʼn groter krisis kan raak as die pandemie self.

Hierdie epidemiese korrupsie kan selfs groter skade aan Suid-Afrika se ekonomie aanrig as die Covid-19-pandemie. Wanneer die reeds skaars belastinggeld wanaangewend word en die hongersnood raak kritiek, gaan Suid-Afrika met groot probleme sit aangesien daar bloot nie meer geld beskikbaar gaan wees nie.

Ingevolge die rampregulasies mag staatsentiteite tenderprosesse bespoedig en afwyk van die normale verkrygingsprosedure. Dit wil voorkom asof sekere staatsdepartemente hierdie afwykings misbruik om onreëlmatig kontrakte toe te ken met betrekking tot dienste en produkte wat nie verband hou met die hantering van die pandemie nie.

Daar is tans ‘n teelaarde vir grootskaalse korrupsie en indien daar nie spoedig opgetree word nie kan miljarde rande verkwansel word.

Daar is ook talle gerugte van maatskappye wat oornag gestig is om produkte en dienste te lewer wat verband hou met die Covid-19-pandemie.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het reeds aangedui hy ondersoek “ernstige bewerings” oor die aangeleentheid en dat hy met die Valke in gesprek getree het oor beweerde ongerymdhede wat klaarblyklik hoofsaaklik verband hou met tenders.

Van die bewerings wat reeds onder die aandag van die SOE gekom het, hou glo verband met die verspreiding van kos en beskermde klere.

Dit laat vrae ontstaan oor waarom die ANC so begerig is om self in beheer te staan van die verspreiding van kos aan behoeftige gemeenskappe en waarom skole wat al maande leeg staan, nou teen miljoene rande ontsmet moet word indien dit nie nodig is nie.

Dit is vir die VF Plus geen verrassing dat die bespoediging van tenders en verkrygingsprosedure die deur wawyd sou oopmaak vir bedrog en korrupsie nie. Daarom moet alle afwykings van verkrygingsprosedure en bespoediging van die toekenning van tenders gedurende die inperkingstyd deeglik ondersoek word.

Die tragedie van die aangeleentheid is dat geld wat op gewetenlose wyse gestroop word, van kritieke belang is om lewensnoodsaaklike dienste te lewer, om sake-ondernemings van ondergang te red en om kos aan honger mense te voorsien.

Die VF Plus se parlementslede het reeds parlementêre vrae aan departemente gerig oor die besonderhede van maatskappye wat tydens die inperkingsperiode tenders ontvang het, watter soort dienste of produkte gelewer is en wat die tenders beloop.

Die VF Plus sal die stryd teen hierdie korrupsie met alles tot sy vermoë beveg. Die land kan nie na die Gupta-staatskaping nou ʼn tweede kaping van die fiskus deur die misbruik van fondse onder die dekmantel van die pandemie bekostig nie.