• Post category:Government

Die ANC-regering en sy minister van finansies, Nhlanhla Nene, was totaal onbewus van die naderende internasionale ekonomiese slagting wat die wêreld die week soos ʼn tsoenami getref het.

Dit blyk uit antwoorde op ʼn skriftelike parlementêre vraag wat die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie, adv. Anton Alberts, reeds twee weke gelede op 14 Augustus aan die minister gevra het oor die moontlikheid van ʼn globale ekonomiese krisis ‘soortgelyk of erger’ as die een van 2008.

Die skokkende antwoord wat die VF Plus gister van Nene ontvang het – juis op die dag wat allerweë as ‘Swart Maandag’ bekend staan en waar die Rand tot sy laaste vlakke ooit geval het, was dat die regering geen inligting het wat op enige krisis dui nie. Hier volg die volledige vrae en antwoorde:

1. Het die minister (a) enige navorsing of (b) ander inligting tot sy beskikking wat dui op die onvermydelike moontlikheid in die nabye toekoms van ʼn globale ekonomiese resessie, soortgelyk of erger as die een van 2008, en om spesifiek te wees in die tydperk vanaf Augustus tot November 2015 of vroeg in 2016; indien wel, wat (i) is die tersaaklike besonderhede, en (ii) die voorsorg wat getref word ten einde Suid-Afrika teen so ʼn gebeure te beskerm?

2. Het die regering enige gebeurlikheidsplanne in plek om so ʼn krisis te kan hanteer; en indien nie, waarom nie?

Antwoord van minister:

1. Daar is geen navorsing wat dui op ʼn globale ekonomiese afplatting met die omvang van dié in 2008 nie. Alhoewel globale groei nie so vinnig is as wat ons sou wou hê nie, is daar steeds groei wat veral gesteun word deur ʼn herstel van groei in ontwikkelde ekonomieë.

2. Suid-Afrika se makro-ekonomiese raamwerk is so ontwikkel dat dit die land sal help om die skok van ʼn internasionale resessie te absorbeer. ʼn Omsigtige fiskale beleid het seker gemaak dat die verhouding tussen die land se skuld en BBP van so ʼn aard is dat meer geld geleen kan word in krisistye. Die raamwerk om inflasie te beheer stel die rentekoers in staat om aan te pas by plaaslike en globale omstandighede sonder negatiewe implikasies rakende inflasie. Die buigsame wisselkoers stel die Rand in staat om aan te pas en vir invoere en uitvoere om dienooreenkomstig aan te pas. Hierdie makro-plan help om veilige finansiële sektorstabiliteit te skep wat die rimpeleffek van enige globale krisis sal weerstaan terwyl ons oop en vloeibare markte ʼn gesonde kapitaalvloei verseker. Die regering en die reserwebank werk nou saam om seker te maak dat ons in die geval van ʼn krisis gereed is om dit gesamentlik af te weer.

Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die regering nie gereed was vir die gebeure nie

“Hoe is dit moontlik dat die staat met sy kundiges nie die krisis kon voorsien nie? Ons is plaaslik uitgelewer aangesien ons totale ekonomie swak gestruktureerd was, en reeds ʼn krisis van sy eie beleef het.

“Dit is grotendeels veroorsaak deur die ANC se onwerkbare ekonomiese beleid soos Regstellende Aksie en SEB en die endemiese wanbestuur en korrupsie in die regering.

“Die VF Plus het lank reeds tendense van groot wêreldwye probleme opgetel, en veral van ʼn oorverhitte Chinese ekonomie. Boonop het Suid-Afrika nou oormatige blootstelling aan China wat die land nog meer skade kan berokken.

“Die ANC was roekeloos en nalatig, en dit word bewys in hierdie antwoord. Dit is tekenend van die regering op alle gebiede, en hy gaan in aanstaande jaar se verkiesing die prys hiervoor betaal,” sê adv. Alberts.