Gemeet aan internasionale norme kan plaasmoorde in Suid-Afrika met reg as ʼn volksmoord bestempel word, en die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie moet die ANC-regering nou dwing om dringende stappe te neem om dit stop te sit.

Dit is een van die dringende versoeke wat ʼn afvaardiging van die VF Plus hierdie week in twee mosies gaan rig aan die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) in Brussels, België.

Naas ʼn voorlegging oor plaasaanvalle en plaasmoorde, gaan die VF Plus die organisasie ook vra om kennis te neem van die vertrapping en stelselmatige ‘uitwissing’ van Afrikaans veral in die onderwysstelsel, wat basiese en hoër onderrig insluit.

Dr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus, en mnr. Wouters Wessels, nasionale jeugleier, is tot Vrydag in Brussels waar hulle UNPO volledig oor hierdie aangeleenthede gaan inlig.

Die VF Plus sal Vrydag ʼn volledige verklaring met die inhoud van die onderskeie mosies uitreik.

Hierdie jongste optrede van die VF Plus volg op ʼn besoek van sy leier, dr. Pieter Mulder, einde 2014 aan UNPO en die VN in Genève, waar die internasionale gemeenskap ook ingelig is oor plaasmoorde, Afrikaans, regstellende aksie (RA) en ander vergrype teen minderhede in die land.

In November 2013 het die VF Plus in samewerking met UNPO ʼn internasionale konferensie by die parlement in Kaapstad aangebied waar groepsregte en selfbeskikking onder meer bespreek is. Bekendes in akademiese kringe, asook verskeie vooraanstaande leiers in die bruin en Khoisan-gemeenskappe, het die suksesvolle konferensie bygewoon.