“Pres. Jacob Zuma bevorder rasseverdeling en stook rassehaat met sy uitlating dat grond die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid en dat die grond in Suid-Afrika gesteel is. Met hierdie opmerking teiken Zuma die wittes in Suid-Afrika asof hulle die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Daar word ook gereeld in die parlement gesê dat ‘wittes het die grond gesteel’. Dit stook rassehaat en die Vryheidsfront Plus gaan ʼn klagte van rassisme indien by die Menseregtekommissie (MRK) om Zuma te ondersoek,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor grondsake van die Vryheidsfront Plus.

“Die feit dat Zuma hierdie opmerking in Rustenburg voor tradisionele leiers gemaak het, vererger die situasie as in gedagte gehou word wat die gevolge was met die uitlatings van die Zulu-koning oor vreemdelinge in Suid-Afrika. Dit is ook duidelik dat Zuma die EFF probeer troef oor die grondkwessie wat emosies en humeure vinnig laat opvlam.

“Die teendeel oor grond is egter waar. Grond vereis harde werk en kundigheid om bewerk te word en om produksie te lewer. Die blote besit van grond gaan nie armoede, ongelykheid en werkloosheid skielik oplos nie. Zuma en die ANC weet nie meer hoe om armoede en werkloosheid op te los nie en nou word op ʼn onverantwoordelike en emosionele wyse die wittes daarvoor beskuldig. Dit is ʼn gevaarlike resep wat rassekonflik skep,” het Groenewald gesê.