• Post category:All / Education

Verskeie Wes-Kaapse belangegroepe het vandag in ‘n gesprek met die bestuur van die Elsenburg-Lanboukollege hande gevat in die stryd vir Afrikaans en het onderneem om die gesprek verder te voer met die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, asook die Wes-Kaapse LUR vir landbou, mnr. Allen Winde.

Die gesprek is gevoer met mnr. Darryl Jacobs (waarnemende adjunk-direkteur generaal, departement van landbou in die Wes-Kaap) en mnr. Marius Paulse, (hoofdirekteur, Elsenburg-Landboukollege).

Hulle het hulle opnuut verbind tot die behoud van Afrikaans as een van die drie amptelike tale soos vervat in die Wes-Kaapse provinsiale grondwet en het herbevestig dat die beveiliging van alle persone op die perseel prioriteit sal geniet.

Ons, wat hierdie gesprek en stryd namens Afrikaans voer, verklaar hiermee:

Die bruin- en wit minderheidsgemeenskappe van die Kaap wil hiermee die duidelike boodskap uitstuur dat ons in die provinsie gesamentlik verbind is tot die behoud van Afrikaans in terme van onder meer artikels 6, 29 en 30 van die Grondwet.
vf+
Ons versoek ook dat ʼn breër konsultasie by die kollege in die provinsie moet plaasvind wat ouers en leiers van die onderskeie politieke groepe wat hierby ʼn belang het, insluit aangesien die EFF hom reeds duidelik in die aangeleentheid betrek het met sy optrede by Elsenburg.

Dit moet duidelik gemaak word dat Afrikaans in die Wes-Kaap nie die taal van enkelinge is nie, maar die taal van ʼn groter gemeenskap in die Wes-Kaap.

Intussen dring ons daarop aan dat die Wes-Kaapse demografie gebruik word in die toekenning van beurse en die aanvaarding van studente aan instellings vir hoër onderwys.