Die beweerde verkoop van feitlik al Suid-Afrika se oliereserwes met die goedkeuring van die land se energieminister, Tina Joemat-Pettersson, sou totaal onwettig en uiters roekeloos wees en die VF Plus het die Openbare Beskermer (OB) versoek om die beweringe sonder verwyl te ondersoek, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Luidens ʼn berig in Bussiness Day Live het die Strategiese Energiefonds (SEF) sonder die medewete van die nasionale tesourie sowat 10 miljoen vate ru-olie in ʼn geslote transaksie teen ʼn ‘baie lae prys’ verkoop met net die goedkeuring van Joemat-Pettersson.

Dit laat die land glo met net sowat 300 000 vate wat nie eens genoeg reserwe vir ʼn enkele dag is nie. Die SEF is glo verplig om ʼn reserwe vir ten minste twintig dae te hou.

Adv. Alberts sê die OB is gevra om die volgende te ondersoek teen die minister asook SEF:

  1. Die wettigheid van die verkoopproses sonder ‘n oop tender en sonder om die tesourie te ken soos vereis deur die Openbare Finansiële Bestuurswet;
  2. Die rasionaliteit van die besluit om te verkoop teen ‘n baie lae prys asook die hoeveelheid verkoop wat Suid-Afrika glo met net een dag se reserwes laat.
  3. Die VF Plus rig ook ‘n PAIA-aansoek aan die minister en die SEF om volle openbaarmaking te gee rakende die verkooptransaksies, en veral wie daarby betrokke is.

    “Nie net is Suid-Afrika op die drumpel van ‘n krediet-afgradering weens die Zuma-kamp se stryd om toegang tot die tesourie en die land se beursie te kry nie, maar dit blyk dat die batestroping van die res van die land se bates onverpoosd voortduur onder ‘n korrupte ANC-regering.

    “Dit is daarom van die grootste belang dat die transaksies van die SEF tot op die been oopgevlek word,” sê adv. Alberts.