Die munisipaliteite van die Vrystaat word so wanbestuur onder die ANC-regering dat hulle nie eens kan hou by die afbetalingsooreenkomste wat inderhaas te midde van groot nood aangegaan is nie.

Verskeie munisipaliteite het reeds sedert Desember 2016 afbetalingsooreenkomste met Eskom aangegaan ten einde te verhinder dat hul inwoners in donkerte gehul word weens wanbetaling.

Baie van die munisipaliteite, onder meer Masilonyana (Theunissen, Winburg, Brandfort, Verkeerdevlei), Tokologo (Dealesville, Hertzogville, Boshof), Dihlabeng (Bethlehem, Paul Roux, Clarens, Fouriesburg), Matjhabeng (Welkom, Odendaalsrus, Hennenman, Allanridge), Nala (Bothaville, Wesselsbron) en Maluti-a-Phofung (Harrismith, Phuthaditjhaba), het nie hul vorige afbetalingsooreenkomste met Eskom nagekom nie en inwoners sal waarskynlik voortaan onder beurtkrag gebuk gaan.

Eskom het vandag aangekondig dat elektrisiteitstoevoer op ‘n beurtkragbasis na Dihlabeng en Nala tussen die ure van 06:00 tot 08:00 in die oggend en 17:00 tot 19:30 in die aande gedurende weeksdae afgesny sal word.

Verlengde beurtkragure is steeds moontlik vir Tokologo. ‘n Verdere afbetalingsooreenkoms is laat Donderdagmiddag tussen Eskom en Masilonyana-plaaslike munisipaliteit bereik.

Munisipaliteite in die Vrystaat het teen einde Desember 2017 ongeveer R5.8 miljard aan Eskom geskuld en hul totale uitstaande krediteure het R9.7 miljard bedra. Dit is totaal onaanvaarbaar vir munisipaliteite om sulke reuse bedrae aan krediteure, waarvan Eskom die grootste is, verskuldig te wees en is aan wanbestuur en onbekwaamheid van die regerende party te wyte.

Munisipaliteite kan nie kort-kort afbetalingsooreenkomste aangaan waarby hulle nie hou nie en sodoende veroorsaak dat betalende verbruikers onder beurtkrag ly nie.

Mediaverklaring deur:

Wouter Wessels

VF Plus-LP

9 Maart 2018