Die skuif van die Afrikaanse televisie aandnuus van TV2 na TV3 op die SAUK is ‘n verbreking van sekere ondernemings wat deur die SAUK-topbestuur oor Afrikaans gegee is. Dit bevestig verder die geleidelike vertrapping  van Afrikaans en verontagsaam grondwetlike waarborge oor taal in Suid-Afrika deur die korporasie, sê dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en woordvoerder oor kommunikasie.

“As na ’n taalkaart van Suid-Afrika gekyk word en dit met TV3 se uitsaai-voetspoor vergelyk word, is dit duidelik hoe die nuwe skuif Afrikaanstaliges in byna die hele Noord-Kaap, die Oos-Vrystaat, die Oos-Kaap en groot dele van die Wes-Kaap van die Afrikaanse nuus asook ander aktualiteitsprogramme soos 50/50 en Fokus in Afrikaans ontneem. Dit is ’n ernstige vraag waarom hierdie kykers steeds TV-lisensies ten duurste moet betaal terwyl hulle nie ’n diens in Afrikaans kry nie,” het dr. Mulder gevra.

“Van alle staatsinstellings behoort die SAUK as openbare uitsaaier juis die een te wees wat die amptelike tale moet respekteer en moet sorg dat die grondwetlike beginsels rondom Afrikaans en ander tale bevorder en uitgeleef word.

“Die VF Plus beskou die besluit wat geneem is rondom Afrikaans as onwettig aangesien die Afrikaanse gemeenskap geen insae gehad het in ‘n administratiewe besluit wat hulle grotendeels benadeel nie.

“Die VF Plus gaan ‘n skrywe rig aan die minister en die SAUK om onmiddellik hierdie besluit terug te trek. Dit sal ook na die portefeuljekomitee oor kommunikasie geneem word vir bespreking en antwoorde van die SAUK-bestuur. Indien die besluit nie reggestel word, sal verdere stappe oorweeg word op grond van die wettigheid van die SAUK-optrede,” sê dr. Mulder.