Die SA Menseregtekommissie moet antwoorde aan die VF Plus verskaf oor waarom hy nagelaat het om klagte van moontlike rassisme te ondersoek teen die vrou Palesa Sotjifa wat wat op twitter glo onder meer die EFF sou aangehits het om wit mense te vermoor. Sotjifa se uitlatings word glo al die afgelope twee jaar op sosiale media gemaak.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor menseregte, sê die sosiale media gons tans oor die aangeleentheid, en dit is reeds in die hoofstroom-media geapporteer. Tog het die MRK tot op hede versuim om uit sy eie ondersoek in te stel en teen Sotjifa op te tree.

Luidens ʼn berig vandeesweek op Netwerk24 het sy ‘twee jaar gelede met haar rassistiese twiets begin deur onder meer te skryf: “They were supposed to stop them there and kill all of them. We would be having a whites free country.”

Verlede jaar het sy luidens die berig getwiet: ‘die EFF moet 500 wit mense vir ons doodmaak.”

Volgens adv. Alberts het die VF Plus nou ʼn amptelike klag teen Sotjifa by die MRK ingedien, maar vereis ook van die MRK om antwoorde te verskaf oor waarom die kommissie nie uit sy eie en sonder ʼn klag opgetree het soos hy in baie ander gevalle wel gedoen het nie.

Die betrokke vraag lui: “Stel asseblief ons kantoor in kennis waarom die moontlike rassistiese uitlatings van Palesa Sotjifa nie uit eie inisiatief deur die MRK ondersoek is soos in baie ander gevalle/individue wel gedoen is nie, en met besondere verwysing na wit mense op dieselfde grondslag.”

Onlangse versoeke om inligting van adv. Alberts aan die MRK ingevolge die Paia-Wet oor die kommissie se ondersoeke sedert sy totstandkoming en met besondere verwysing na ras in die ondersoeke, het ʼn groot leemte by die MRK blootgelê.

In ʼn brief gedateer 20 Junie vanjaar erken die MRK dat sy data oor menseregte-klagtes nie aantoon watter rassegroepe betrokke is nie.

Die antwoord lui onder meer: “Die kommissie sien wel die waarde daarvan in om alle klagtes te boekstaaf en te analiseer sodat ʼn behoorlike rasseprofiel van klaers geskep kan word. Die uitvoerende hoofbeampte is gevra om die aangeleentheid te ondersoek met die oog daarop om gepaste stappe te neem om in die toekoms hiervoor voorsiening te maak”.

Adv. Alberts sê die VF Plus het die MRK in die verlede reeds etlike male gekritiseer, onder meer weens sy oënskynlike onbereidwilligheid om die EFF en pres. Jacob Zuma te ondersoek.

“Die situasie by die MRK is uiters kommerwekkend en die kommissie sal die publiek nie kan verkwalik indien sy bekwaamheid en onpartydigheid toenemend onder verdenking kom soos sake tans staan nie,” sê ad. Alberts.