Die feit dat Suid-Afrika nou voor die Verenigde Nasies (VN) probeer het om internasionale internet-sensuur afdwingbaar te maak, is kommerwekkend gesien teen die agtergrond van beoogde wette waarmee die regering dit duidelik ten doel het om perke te plaas op vryheid van spraak, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Suid-Afrika het verlede Vrydag by die VN saam met lande soos China, Rusland en Kuba teen ʼn resolusie gestem wat daarop gemik is om vryheid van uitdrukking op die internet te verskans terwyl meer as sewentig lande dit gesteun het.

Suid-Afrika en sy bondgenote het voorgestel die resolusie moet so verander word dat dit vrye toegang tot die internet vir hul inwoners beperk. Dié lande het ook versoek dat die term ‘Vryheid van Uitdrukking’ uit die resolusie verwyder word.

Volgens dr. Mulder is dit veral kommerwekkend dat Suid-Afrika se verteenwoordiger by die VN se raad vir menseregte, Ncumisa Notutela, tydens die sitting gesê het die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans wel vryheid van uitdrukking, maar dat die uitoefening van vryheid van uitdrukking en opinie nie ʼn ‘absolute reg is nie’.

Hy sê huidige wetsontwerpe wat vryheid van spraak in Suid-Afrika aan bande kan lê is die Wetsontwerp op Kubermisdaad en Kubersekuriteit wat verlede jaar afgekondig is. Die doel daarvan is om internetvryheid en die besit van inligting vir veral joernaliste aan bande te lê.

“Daar dien tans ook wetgewing voor die parlement wat aan die minister en die president meer magte sal gee in terme van die Uitsaaiwet.

“Die Rolprent-en-publikasieraad (RPR) het verlede jaar regulasies voorgestel wat ʼn verbod sal plaas op die vrye plasing van digitale inhoud op die internet, selfs deur individue. Dié wetsontwerp en regulasies dien steeds voor die parlement en die VF Plus sal dit op elke manier moontlik teenstaan.

“Die rede agter alles is eenvoudig: ʼn Benoude kat maak benoude spronge en dit is wat die ANC tans doen.

“Wat Suid-Afrika aanbetref, is die djin van spraakvryheid in die era net na 1994 reeds met die hulp van opposisiepartye uit die bottel vrygelaat en geniet Suid-Afrika wye vryheid van spraak en inligting deur die media en sosiale media. Om dit om te keer, sal drastiese stappe van die ANC verg wat ernstige weerstand van die VF Plus en die publiek sal ontlok,” sê dr. Mulder.