Die VF Plus verwelkom Statistiek Suid-Afrika (SSA) se onderneming om ʼn landwye peiling te doen om die vlakke van armoede en ongelykheid in die land te meet, maar sal toesien dat wit, bruin en Khoisan ook hierby ingereken word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling.

Adv. Alberts sê weens die groot swart bevolking se getalle in verhouding tot minderhede, word armoede onder minderheidsgroepe altyd gering geskat, en die VF Plus sal toesien dat hierdie skeefgetrekte profiel dat armoede net tot swartes beperk is, reggestel word.

“Die VF Plus sal met bruin- en Khoisan-leiers saamwerk om te wys waar hul arm gebiede is, en sal SSA van inligting voorsien oor die honderd duisende blankes wat in die grootste armoede en in plakkerkampe leef,” sê adv. Alberts.

SSA begin in September vanjaar met die peiling en mik daarna om ten minste 32 000 wonings te besoek. Dit sal voltooi wees teen Oktober 2015.

Volgens die webtuiste van SSA is die doel van die studie om ʼn deeglike profiel van armoede saam te stel met inligting soos wie arm is, waar hulle woon en wat aanleiding gee tot armoede.

Dit is bekend dat Suid-Afrika een van die hoogste ongelykheidsvlakke ter wêreld het met ’n Gini-koëffisiënt van 0,69.

Volgens adv. Alberts kan die redes vir die armoede en ongelykheid by die adres van die ANC-regering gesoek word aangesien dit grootliks te wyte is aan beleid soos regstellende aksie, striemende arbeidswette en onderdanigheid aan vakbonde dat die land se arbeidsmark toenemend krimp.