Die Menseregtekommissie behoort alle klagte en alle Suid-Afrikaanse burgers oor dieselfde kam te skeer in sy ondersoeke. Tog wil dit voorkom of die kommissie nie konsekwent is in sy optrede nie as die VF Plus se klagte oor die EVV met die Sunette Bridges-klagte vergelyk word nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Die VF Plus het met die aanloop tot die verkiesing verlede jaar verskeie klagte van haatspraak rondom Julius Malema en die EVV ingedien by die Menseregtekommissie (MRK), die Openbare Beskermer (OB) en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) waarvan tot op hede niks gekom het nie.

Die presiese bewoording van die VF Plus se skrywe aan die drie liggame lui:

VERSOEK OM ONDERSOEK IN TE STEL NA VERKONDIGING VAN HAATSPRAAK EN OPSWEPING TOT GEWELD ONDER DIE VAANDEL VAN DIE EKONOMIESE VRYHEIDSVEGTERS (EVV)

Hiermee versoek die Vryheidsfront Plus u kantoor om ondersoek in te stel na baniere wat onder die naam en in die kleure van die EVV in die openbaar en tydens byeenkomste van die EVV vertoon is waar gesê word:

  • “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate”;
  • “Honeymoon is over for white people in South-Africa”.

Wanneer die boodskappe naas mekaar vertoon word, is die afleiding duidelik dat die eerste boodskap gemik word teen wit mense in Suid-Afrika. (Foto’s word aangeheg).


Dit is ‘n oortreding van die Grondwet asook die Kieswet van Suid-Afrika.

  • In die Grondwet bepaal artikel 16(2)(a),(b) en (c) duidelik dat die reg van vryheid van uitdrukking nie die volgende omvat nie: (a): Propaganda vir oorlog. (b): Aanstigting van geweld, en (c): Die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit….. gegrond is nie, en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie;
  • Die Kieswet (Wet 73 van 1998), Skedule 2(99)(9) lui dat ‘geen geregistreerde’ party of kandidaat taal mag gebruik of op so ‘n wyse optree dat dit geweld tydens ‘n verkiesing uitlok nie.

Die Vryheidsfront Plus versoek u ook om ondersoek in te stel na voorvalle van haatspraak en aanhitsing tot moord en verkragting van wit mense op ’n sosiale-netwerkblad (Facebook) van die EVV. (Voorbeelde word aangeheg). (Einde van brief).

Een van die facebook-boodskappe op Julius Malema se blad is geplaas is deur ene Thato Mbateti en bevat skokkende detail oor hoe wit vroue verkrag moet word, kinders verbrand moet word en mans gemartel moet word.

Hy noem dat Malema sy volgelinge voorsê om wittes te vermoor.

Die MRK het vandeesweek in die Bridges-saak aangevoer dat sy artikel 10 (1) van die Wet op Gelykheid geskend het deur haatspraak te pleeg en dat sy ook artikel 11 van die Wet geskend het wat handel oor teistering op grond van ras. Volgens die klagte moet sy ook instaan vir dit wat ander mense op haar webblad skryf.

“Die VF Plus sal daarom die MRK vra om te verduidelik waarom daar nie opgetree is in die EVV- en Malema-geval nie en op die dubbele standaarde wys,” sê dr. Mulder.