• Post category:All / Government

Sekere sake, soos die huidige droogte in Suid-Afrika, is so belangrik dat dit verhewe moet staan bo gewone politiekery, en die parlement moet dit oorweeg om sy ordelys so te rangskik sodat so ʼn belangrike debat voorrang geniet, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag met die parlementêre debat oor die droogte se impak op die landbou-ekonomie ʼn beroep op mede-parlementslede gedoen om dit nie te verpolitiseer nie en het gesê al word die regering ook hoe fel gekritiseer, is dit belangrik om te onthou dat hy nie reën kan maak nie.

Hy het gesê die droogte het ʼn groot impak op almal in die land en dit moet in ag geneem word dat Suid-Afrika, wat landbou aanbetref, terselfdertyd ʼn ontwikkelde, en ʼn ontwikkelende land is.

“In 1990 het Suid-Afrika sowat 66 000 kommersiële boere gehad. Vandag is daar waarskynlik nie eens 35 000 oor nie. Wat ontwikkeling aanbetref, het die land ʼn reuse komponent van sowat 1,4 miljoen opkomende boere, en moontlik meer.

“Die realiteit is egter dat die 35 000 kommersiële boere 95% van die kos in die land produseer. Dit is tekenend van ʼn ontwikkelde landbouland.

“Sowat 60% van die land se mense is verstedelik. Daarom moet ons stappe neem om seker te maak daardie 35 000 kommersiële boere bly op hul grond en produseer kos. Ons moet sorg neem dat hulle die droogte oorleef in almal se belang.

“Van die boere het reuse skuld en ernstige kontantvloeiprobleme weens die droogte, en maniere moet gevind word om dit vir hulle moontlik te maak om te oorleef.

“Is daar byvoorbeeld ʼn manier waarop die staat kan help met die kwessie van die minimum-loon? Vanweë boere se geldprobleme sal werkers bloot afgedank word, en die land kan dit ook nie ʼn situasie bekostig waar werk verlore gaan nie.

“Daar is tans sowat 850 000 plaaswerkers. Kom ons vind ʼn manier om die boere deur die droogte te help tot hul kontantvloei weer beter is. Ek doen ʼn beroep op die minister om hiermee te help. Ons kan nie in ʼn situasie beland waar voedselsekerheid in die gedrang kom nie,” sê dr. Mulder.