ʼn Versoek van die VF Plus aan die voorsiter van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid om dringend in te gryp in ʼn poging om die staalvervaardiger Highveld Steel van ondergang te red, het vrugte afgewerp sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Adv. Alberts sê die voorsitter van die komitee, me. Joanmariae Fubbs, het ʼn dringende vergadering aangevra met die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, om antwoorde van hom te kry oor waarom die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IOK) nie tot Highveld Steel se redding gekom het nie.

Volgens adv. Alberts was daar ʼn staande onderneming van die IOK dat hy ʼn reddingsboei van R150 miljoen na die sukkelende maatskappy sou uitgooi indien nodig.

“Dit isr die VF Plus goeie nuus dat ons versoek ernstig opgeneem is en dat dit nou op hoogste vlak aandag geniet. Me. Fubbs het die versekering gegee dat sy die saak in ʼn baie ernstige lig beskou en dat sy vasbeslote is om Highveld Steel te help red.

“Die VF Plus sal deurlopend in kontak met die betrokke rolspelers bly, en sal aanstaande week weer terugvoer oor die aangeleentheid gee,” sê adv. Alberts.

In sy skrywe twee weke gelede aan me. Fubbs het adv. Alberts gesê die land kan nie groot werkverliese bekostig nie, en dat die IOK se versuim om sy plig na te kom, groot werkverlies en menselyding veroorsaak het.