Die VF Plus het sy appèlaansoek teen die registrasie van die Black First Land First (BLF) as politieke party by die Verkiesingskommissie (OVK) gewen. Die kommissie het beslis dat die BLF inderdaad lidmaatskap aan dié party op grond van ras uitsluit en die BLF is gederegistreer as politieke party.

Ingevolge artikel 16(1)(c) van die Wet op die Verkiesingskommissie (Wet 51 van 1996) mag die OVK nie ‘n politieke party registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie. Die BLF se grondwet bepaal in artikel 4 dat slegs swartmense lede van dié party mag wees.

Die OVK het aanvanklik voet by stuk gehou en beweer dat die registrasie van die BLF nie teen die bepalings van die wet is nie, omdat artikel 4 van dié party se grondwet eerder na ‘n bepaalde ideologie as ‘n spesifieke ras verwys.

Die leier van die BLF, Andile Mngxitama, het egter hierdie bewering self weerspreek deur in sy aanvanklike opponerende verklaring, soos geliasseer gedurende die VF Plus se aansoek by die Kieshof, te bevestig dat die BLF se grondwet witmense op grond van ras uitsluit.

Die Kommissie kon dus nie anders as om in die guns van die VF Plus te bevind  nie en moes gevolglik die BLF as politieke party deregistreer.

Die deregistrasie van die BLF as politieke party is ‘n reuse oorwinning vir die ganse Suid-Afrika, omdat die rassehaat en onverdraagsaamheid wat deur Mngxitama en sy trawante aangevoer en voorgestaan word, nie geduld mag word nie.

Die geslaagde aansoek is ook ‘n oorwinning vir wet en orde. Die VF Plus het hierdie saak sedert Januarie vanjaar aangevoer in belang van wet en orde.
Dit is onaanvaarbaar dat die OVK met die registrasie van die BLF die wet oortree het. Wetgewing mag nie slegs as riglyne gesien word nie, maar moet aan voldoen word. Niemand is verhewe bo die wet nie.

Die VF Plus is dankbaar vir die oorwinning, maar is teleurgestel in die OVK omdat die Kommissie aanvanklik die registrasie van die party, wat in teenstelling met tersaaklike wetgewing was, verdedig het. Die VF Plus slaan
terug teen rassehaat en wetteloosheid en staan nie terug vir moeilikheidmakers soos die BLF nie.