• Post category:All / Government

Die VF Plus het vandag in die portefeuljekomitee van handel en nywerheid van die Verbruikerskommissie verneem dat daar sterk stappe geneem gaan word om die probleme in die vakansieklub-industrie op te los.

Dit kom nadat die VF Plus verlede jaar klagtes by die komitee ingedien het rondom vakansieklubs en wat toe verwys is na die Verbruikerskommissie om ondersoek in te stel.

Die Verbruikerskommissie het onder meer besluit dat die volgende aspekte van die industrie na die Verbruikerstribunaal verwys moet word vir ʼn finale beslissing:

1.Die ewigdurende aard van die kontrakte. Die Verbruikerskommissie wil hê die tribunaal moet bevind dat alle kontrakte wat ʼn ewigdurende effek het, as onbillik bestempel word en derhalwe geen regskrag moet hê nie. Die implikasie sal dan wees dat enige lid wat gebonde is aan so ʼn kontrak, sal kan besluit om terug te tree uit die kontrak, of sal kan voortgaan met die verhouding, maar op ʼn meer regverdige basis soos goedgekeur deur die Verbruikerskommissie;

2.Bemarkingspraktyke soos aggressiewe bemarking, ondernemings en beloftes wat nie nagekom kan word nie en enige ander ondernemings wat nie strook met die realiteit van die kontrakte en die produk nie, sal gestop word deur dit as onaanvaarbare praktyke te laat verklaar;

3.Ten derde moet die tribunaal ʼn bevinding maak oor hoe lede op ʼn regverdige wyse uit ʼn geldige kontrak kan tree. Die Verbruikerskommissie beskou die vyf dae afkoelperiode na kontraktering as onvoldoende en wil daarom hê die tribunaal moet ʼn bevinding maak rakende die billike basis waarop lede kan kennis gee om ʼn kontrak te kanselleer met inagneming van ʼn billike vroeë uittreefooi soos wat tans die gebruik is by vaste termyn-selfoonkontrakte;

4.Verder het die Verbruikerskommissie na gesprekke met die industrie verlede week gelas dat die vakansieklub-industrie ʼn gedragkode moet saamstel en aan die Verbruikerskommissie oorhandig teen einde Oktober 2014. Die gedragkode sal dan vir publieke insette gepubliseer word. Na inagneming van die publieke insette en ʼn oudit dat die kode in lyn is met die Wet op Verbruikersbeskerming, sal dit afgekondig word as ʼn regulasie deur die minister. Die beteken die kode sal regskrag met gevolge hê indien enige vakansieklub dit sou verbreek.

Die VF Plus is bly dat die stappe geneem is, en dat dit na afhandeling werklike regskrag sal hê. Dit sal ʼn diepgaande en billike effek hê op vakansieklub-lede wat gebuk gaan onder onbillike kontrakte en praktyke.