Die beskadiging van ʼn standbeeld, soos die groen verf op die Krugerbeeld, is ʼn misdaad en die polisie behoort die saak onmiddellik te ondersoek en teen die skuldiges op te tree.

Die emosie en potensiële konflik wat sulke optrede aan alle kante van die Suid-Afrikaanse samelewing wakker maak, moenie onderskat word nie.

Leiers speel ʼn belangrike rol as dit by goeie of swak verhoudinge kom. Dit is nie toevallig dat buitelanders in KwaZulu-Natal geteiken word kort nadat die Zulu-koning hom teen die teenwoordigheid van
buitelanders uitgespreek het nie. Op dieselfde wyse het mnr. Malema en president Zuma ʼn anti-wit heksejag aan die gang gesit met hulle negatiewe verwysings na Afrikaners en na Jan van Riebeeck vroeër
vanjaar. Hierdie leierskap-optredes staan in skrille kontras met president Mandela se versoeningsbenadering waar hy met een uitlating in die jare negentig die debat oor die verwydering van die Springbok as sport-embleem gestop het.

Die VF Plus het met die burgemeester van die Tshwane-metro, mnr. Kgosientso Ramokgopa, in verbinding getree oor die beskadiging van monumente. Hy het polisiebeskerming belowe. Die VF Plus het ook ʼn boodskap oor die aangeleentheid aan Nathi Mthethwa, minister van Kuns en Kultuur gestuur. Vroegtydige en verantwoordelike optrede kan verdere onnodige insidente en konflik rondom standbeelde voorkom.

Die EFF en ANC-jeug verstaan duidelik niks van die konflik en stryd van die verlede nie. So het president Paul Kruger sy lewe grootliks gewy aan ʼn stryd teen Britse imperialisme en kolonialisme. Dit het begin deur die Groot Trek waaraan hy deelgeneem het om onder Britse gesag uit te kom en het geëindig met twee oorloë, 1881 en 1899, teen die koloniale moondheid Brittanje. Kruger is in Switserland dood omdat hy gesê het dat hy onder die Britse vlag gebore is, maar nie bereid is om onder die Britse vlag te sterf nie. In hierdie opsig is hy een van die eerste Afrika-vryheidsvegters teen Europese kolonialisme en imperialisme.

Die Kruger-familie se goeie bande met swartmense blyk uit die feit dat die kosbare familiebybel, waarin Kruger self die familiestamboom ingeskryf het, tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Magato by Rustenburg gegee is vir beskerming teen die Britte.

Kruger het ook ʼn positiewe rol gespeel in die geskiedenis van die Royal Bafokeng wat vandag as die rykste stam in Afrika beskryf word.

In 1887 het Kruger ʼn ooreenkoms met Lobengula, die Matebelehoof gesluit. In hierdie tyd het die Britte en Rhodes in Lobengula se land, die huidige Zimbabwe, belang gestel. Kruger het Piet Grobler as ʼn spesiale konsul met ʼn boodskap na Lobengula gestuur. Kruger se boodskap aan hom was: “Jy moet nie van jou land aan ander weggee nie, maar dit vir jou kinders hou.”

Hierdie tipe politiek om standbeelde te beskadig is ʼn misdaad en los geen probleme op nie, maar skep net nuwe konflik en probleme in ʼn ingewikkelde diverse land.